Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.

Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 18:1, 15, 16. 

Geloofsbelydenis

Wet
 
Psalm  25:3.

Gebed.

Psalm 54:1.
 
Skriflesing:  (Lees ook Genesis 49: 8 ‑ 12 en 49: 27 en  1 Samuel 8: 1 ‑ 7)

Teks:  1 Samuel 9: 15

Want die Here het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar ...

Van baie vroeg af al het die gelowiges die behoefte gehad dat hulle 'n regeerder oor hulle wou hê wat met krag en in waarheid oor hulle kon regeer. Ten diepste was dit al 'n soeke en 'n roep na die ware koningskap van die Here Jesus   ‑  die Koning van die kerk.

1. Die Here se voorbereiding van die koningskap.

2. Wie is nou die eerste koning ?

3.  God maak jou bekwaam vir jou roeping !

4. Toepassing
 
1. Die Here se voorbereiding van die koningskap.

As ons kyk na die geskiedenis van Israel, dan sien ons dat die saak soos volg ontwikkel het:

Op Jakob se sterfbed het hy elke seun geseën.
Die seën wat hy oor elke seun uitgespreek het, was bedoel om 'n profesie te wees van hoe die stam wat uit die seun gebore sou word, in die toekoms sou wees.
In die seën wat uitgespreek word oor Juda, hoor ons dat hierdie stam gaan regeer:
die septer sal van Juda nie wyk nie.
Aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
 
Ons weet dat hierdie woorde in vervulling gegaan het met Dawid en sy nasate se heerskappy oor die volk Israel.

Ons weet dat die Here met hierdie woorde meer voorspel het as net die koningskap van Dawid.
Die Here het ook hiermee voorspel  dat die Here Jesus as die ewige Koning uit hierdie stam gebore sou word.
 
Dit bring ons by die geskiedenis waarvan ons gelees het: Die profesie begin in vervulling gaan.

Die volk wil 'n koning hê !
Ten diepste is dit die sug na die ware koning, maar by hulle vind dit gestalte in die roep na 'n aardse koning.
 
'n Ongelowige mens sou dink dat die volk Israel maar heeltemal "toevallig" op hierdie punt uitgekom het. Tog is die Bybel baie duidelik dat alles gebeur presies soos wat God dit beplan het.   Terwyl hulle nog in die woestyn was, het die Here al vir hulle gesê dat hulle in Kanaän ‘n koning oor hulle moet aanstel:

As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil 'n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,    dan moet jy sekerlik 'n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy 'n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.  (Deuteronomium 17:14-15 AFR1953)

Tot op hierdie stadium van die geskiedenis wat ons saam gelees het, het God self oor sy volk geregeer.
Die twee seuns het egter sleg uitgedraai en van hulle werk as regeerders 'n mislukking gemaak, omdat hulle hulle laat omkoop het.  Toe kom die volk na Samuel toe: Hulle wil 'n koning h soos die heidenvolke.  Hulle wou nie een hê omdat hulle die Here se vroeëre opdrag wou uitvoer nie.

Die saak was vir Samuel baie verkeerd, want hy het besef dat die Here Koning is oor Israel.
Daarby het Samuel die saak ook persoonlik aangetrek  ‑  waarskynlik omdat hy nie meer bekwaam was nie as gevolg van sy ouderdom, en omdat sy seuns toe so swak uitgedraai het.
Die Here troos hom deur hom daarop te wys dat die volk met hierdie besluit van hulle nie Samuel nie, maar die Here verwerp het.
 
Die volk het die voorreg om die Here as Koning te h, misken, en vra vir 'n koning op die styl van die heidene rondom.
Kyk hoe reageer die Here:
In hierdie geskiedenis word die verganklikheid van die mens as koning geteken, maar juis hierdie swakhede van hulle profeteer van Jesus Christus se koningskap!
Die volk kry dus 'n koning  ‑  Dit was in elk geval God se bedoeling dat die koning mettertyd op die troon sou kom.
2. Wie is nou die eerste koning ?

Op sy sterfbed het Jakob oor Benjamin geprofeteer dat hy 'n wolf sal wees wat verskeur.  Sy nasate sal van die oggend tot die aand op die roof uit wees.  Daarmee het die Here die Benjaminiete geteken as woeste soldate.  Ons lees dikwels met besondere vermelding in die Bybel hoe dapper die Benjaminiete geveg het.

Daar is egter ‘n skadu-kant ook! Die Benjaminiete het nie altyd respek vir lewe en eerbaarheid gehad nie.   Ons lees in Rigters 19 dat hulle homoseksualisme bedryf het, en toe hulle nie daarmee hulle sin kon kry nie, het hulle die man se byvrou die nag deur verkrag totdat sy dood was.  Dit alles lê in Jakob se profesie dat Benjamin ‘n wolf sal wees!
As mens nie al hierdie dinge geweet het nie  ‑  wat God reeds op daardie stadium geopenbaar gehad het  ‑  sou jy die eerste gedeelte van Saul se geskiedenis lees en dink dat hy maar "toevallig" by Samuel uitgekom het.

3.  God maak jou bekwaam vir jou roeping ! 

Daarom is die salwing ook so indrukwekkend:  Samuel het die kruik met olie geneem en dit oor Saul se kop uitgegiet en hom gesoen en gesê:

Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?
 
In die vraag word die saak soveel sterker gestel! Hy moet "ja" antwoord en daarmee besef dat Hy:
Deur God gesalf is.
Oor God se volk, wat God se erfdeel is, gesalf is.

Hiermee stel die Here dit baie duidelik dat Israel nie maar 'n gewone volk is nie.

Hulle het hulle sondes, en as mense is hulle in hierdie saak van die koningskap ook maar kortsigtig, maar hulle is nie 'n gewone volk in die ry van volkere nie.
Israel is die erfdeel, die besitting, die eiendom van die Here.
Saul moet oor hierdie eiendom van die Here die koningskap van die Here gaan uitoefen.
 
Saul se siel was nie so groot soos sy liggaam nie!  Saul het geestelik nie bo die res van die volk uitgestaan nie.
Die Here stel dit verder ook duidelik dat Saul as koning aangewys word as verhoring van die volk se gebede:

Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na my gekom het !

God wil sy volk uit die verdrukking onder die Filistyne verlos, en daarom word Saul die man wat hierdie bevrydingswerk moet gaan doen.

Die Here begin dadelik om Saul bekwaam te maak vir sy roeping. Daardie aand gaan hy saam met Samuel huis toe.

Samuel neem hom op die dak van sy huis.  Daar onderrig Samuel Saul oor die bekommernis van die Here oor sy volk.
Hy onderrig die toekomstige heerser oor die manier waarop die volk van God regeer moet word: Die toekomstige koning moet die volk regeer deur homself en die volk voortdurend tot die Here te bekeer.

Die anderdag more word die kneg vooruitgestuur.  Samuel wil alleen met Saul wees as hy hom salf.
4. Toepassing 

Daar is uit hierdie gedeelte 'n paar dinge duidelik:

Die eerste is dat God van alle ewigheid af dieselfde is.  Hy het alles beplan, en oor eeue gebeur presies dit wat God van die begin af in gedagte gehad het.
Daarom is daar aangetoon dat die seën van Jakob eeue later in vervulling gegaan het in die koingskap oor Israel, en kan ons weet dat dit uiteindelik in die hiernamaals vervul word in Christus Jesus die God en Koning van die gelowiges.
M.a.w. die gedeelte is vir die ware gelowige tot troos: niks gebeur toevallig nie. Dinge gebeur net soos wat God dit beplan het.
 
Die tweede saak is dat God ook elke mens roep tot 'n bepaalde taak in die lewe.
En hierdie taak word gekoppel aan bepaalde verantwoordelikhede.
Samuel word geroep om die laaste rigter oor Israel te wees, maar hy word ook geroep om die eerste twee konings te salf oor Israel.
So word Saul geroep om die Filistyne in toom te hou, en om 'n weermag in Israel te monster.
In sy roeping word hy van die begin af daarop gewys dat hy moet doen wat God wil h dat hy moet doen. Hy kan nie onbeteueld in sy amp voortgaan nie. 

Die derde saak is dat u uself moet ondersoek: Hoe verantwoor­delik is u teenoor die Here?
U roeping word ook afgebaken binne sekere grense: Saul moes koning wees oor 'n volk wat hy nooit sou besit nie  ‑  dit was die Here se eiendom.
Hy moes net God se raad uitvoer.
Toe hy uiteindelik hierdie roeping nie meer gesien het nie, het die Here hom oneervol uit hierdie diens verwyder.
Die feit is bloot dat mens nie eiegeregtig kan lewe nie. Jy bly elke oomblik gebonde om te doen wat God eis. Waar staan u en ek? 

Die laaste saak is dat u nie vir onverantwoordelikheid by die Here 'n verskoning sal h nie, want die Here maak ons bekwaam vir ons roeping en ons taak.
In ons besondere geval het dit so gebeur dat die koningskap waarvan Saul maar net 'n eerste voorbeeld was, later in Jesus Christus tot vervulling gekom het.
Hy is deur God gestuur en gesalf om Koning oor die gereddes te wees.
In die uitoefening van sy koningskap het Hy deur baie smarte, spot en selfs die dood gegaan.
Hy was een honderd persent getrou aan sy opdrag.
Die resultaat daarvan was dat Hy alle magte wat God en die hemel teenstaan, verslaan het.
Die effek daarvan is dat ons vrygemaak van die verslawing aan die duiwel aan die Here gehoorsaam kan wees met ons hele lewe. Ons is vry in ons koning Jesus Christus die Here.
Ons is soveel te meer vry van onverantwoordelikheid omdat die Heilige Gees ons ook nog lei om die verkeerde te kan uitken, en te oorwin wanneer dit sy pad met ons kruis.

Daar is dus 'n geweldige aanspraak op ons verantwoordelikheid.

Maar dan moet u altyd die troos onthou, want dis deel van ons bekwaammaking: Die Here vergeet nie wat Hy beplan het nie, en Hy verander ook nie sy raad nie.
U as uitverkorene sal altyd die nabyheid van die Heilige Gees hê, en altyd beskerm word deur die kruiswerk van ons Here.
 
Wat is die bewys ?

Die bewys is geleë daarin dat die Here vooruit openbaar waarheen Hy met ons gaan, en dat Hy dan nooit daarvan afwyk nie.
So het die Here die vorige dag aan Samuel openbaar dat die man wat koning oor Israel moet wees, na hom toe sou kom.
En dit was so.
Net so openbaar die Here aan ons die verlossing in Jesus Christus.
Maar ons staan met die verantwoordelikheid om die genade wat hier­die verlossing ons bied, elkeen voluit te benut.
Amen.

Slotgebed.
 
Slotpsalm 118:13

Die HERE sal jou seën en jou behoed;  
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;  
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
 
Dr MJ du Plessis
14 Oktober 2001 (oggenddiens)
Bellville