KERSFEES HANDEL OOR JESUS SE VERNEDERING                                                                                          
 
Skriflesing; Jesaja 52:12 - 53: 13

Skrifberyming 10:1,2
                      8:1,2
                     10:2-6

Broeders en susters, Paulus skryf aangaande Kersfees in Filippense 2:6,7 soos volg oor die hoedanigheid van Jesus se koms na hierdie wêreld:

“ Hy wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Goddelike wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” 

U weet, as ons nie besef hoe ‘n ontsettende vernedering dit vir Jesus moes wees om na hierdie wêreld te kom nie, dan kan ons ook nie opreg Kersfees vier nie. Kersfees is immers ‘n fees wat handel oor die vernedering van die Seun van God ter wille van ons.
 
Jesus se koms na hierdie wêreld was van die dag van Sy menswording af een stuk vernedering en smart en lyding.  Daarom sal ons nooit kan besef wat ware Kersvreugde is as ons nie besef hoe groot Jesus se vernedering  was om aan ons die vreugde te verskaf om kinders van God te wees nie.

In Jesaja 52 en 53  word aan ons die intensiteit en diepte van Sy lyding beskryf. Om iets hiervan te verstaan moet ons hierdie gedeelte vers vir vers ondersoek.

Ons kan hierdie gedeelte in drie dele opdeel t.w.:

1. Jes. 52:13 - 15 : Dit handel oor Jesus se vernedering wat aanvanklik nie deur mense begryp kon word nie   in teenstelling met Sy verheerliking.

2. Jes. 53: 1-9 : Dit handel weer oor die betekenis en diepte van Jesus se vernedering, en oor gelowiges wat eers nadat Hy gely en gesterf het, iets hiervan kan begryp.

3. Jes. 53: 10-12: Die gedeelte wys ons op God se plan met Jesus se vernedering

1. Ons kyk nou eerstens na die onbegryplikheid van Jesus se vernedering in teenstelling met Sy heerlikheid volgens Jesaja 52: 13- 15.:

In hierdie gedeelte laat Jesus se vernedering die mense verbaas en verstom staan. Hier word die groot teenstelling beskryf tussen verheerliking, vernedering en weer verheerliking. Hier word ons gelei na die hoogste hoogtes van Jesus se verheerliking volgens vers 13,  om dan af te tuimel na die diepste dieptes van sy vernedering volgens vers 14, om dan weer op te styg na die duiselingwekkende hoogtes van Sy verheerliking in vers 15.

Vers 13 beskryf Jesus se verheerliking wat verbasing uitlok by die mense. Dit begin by die opstanding uit die dood. Maar dit gaan nog verder. Hy sal hoog in aansien wees. Dit hou verband met Sy hemelvaart. En nog hoër . Hy sal baie eer ontvang. Hy sit aan die regterhand van God en ontvang alle mag in die hemel en op aarde.

Maar dan skielik laat die Here ons in vers 14  afkyk in die staat van Sy vernedering  waaruit Hy opgestyg het. Sy vernedering was só ontsettend dat mense dit nie kon beskryf of begryp nie.

Hy was so misvorm. Waarom? Was dit pyn of siekte of vervolging of mishandeling wat Hom so misvorm het? In daardie stadium kon die mensdom dit nog nie begryp nie. Dit was asof ‘n donker kombers van onsekerheid by die mensdom die intensiteit en oorsaak van Jesus se lyding vir hulle bedek het. ‘n

Mens kon net die weerkaatsing van verbasing op die gesigte van baie sien. Hulle was met stomheid geslaan.

Op digtelike  wyse beskryf Jesaja in vers 14 die aanvanklike reaksie van mense oor iemand op wie die verskriklike straf van die Here gerus het. Wat het Hy dan gedoen om só te moes ly? Waarom het God Hom op so ‘n afgryslike wyse gestraf?

Vers 15 voer ons weer op na die hoogtes. Sy lyding was nie tevergeefs nie. Nasies sal opspring van verbasing.  Dit beteken eintlik dat Hy nasies sal besprinkel soos op die groot versoendag om versoening te doen vir hulle sondes.

Die lydende kneg besprinkel baie met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster. Volke  kom tot bekering. Só aangrypend is hierdie reinigingswerk deur die Heilige Gees vanaf Pinkster dat die magtiges van die wêreld verstom sal staan van verbasing.

Wat Jesaja dus hier sê is dat ons eers die doel en intensiteit van Jesus se lyding kan begin begryp as Hy met Sy versoeningsbloed deur die Heilige Gees ons oë hiervoor oopmaak. So is hierdie eerste drie verse einlik ‘n inleiding  tot die res van hierdie gedeelte.

Ons moet eers die gawe om te glo van die Heilige Gees ontvang, want as ons nie waarlik glo nie, sal ons nooit Christus se vernederende lyding kan begryp nie.

2. Maar as ons nou verder deur ons geloof na die beskrywing van Jesus se lyding in Jesaja 50: 1-9 gaan luister, sal die intensiteit en doel hiervan vir ons duideliker word.

In verse 1 - 3 luister ons na die belydenis van ‘n gelowige hieroor. Dit is ‘n belydenis vol verbasing en vol berou as die gelowige sê:

“Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?”

Toe Christus op aarde was, het niemand besef hoe geweldig Sy vernedering en lyding was nie. Selfs Sy dissipels wou nie eens aanvaar dat Hy moes ly en sterf nie. Petrus het nogal op ‘n keer, nadat Jesus vir hulle vertel het hoe Hy in Jerusalem gaan ly en doodgemaak word, gesê: “Here, dit sal U nie oorkom nie. (Matt. 16:23).

Maar na Sy opstanding en hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees het hulle besef: “Waarlik, die Here was by ons en ons het dit nie besef nie.”

Broeders en susters, eers as ons in die geloof kan terug kyk op Jesus se lyding, kan ons ‘n vae idee begin kry oor hoe geweldig Sy vernedering was. En dit word so uitgebeeld:

“Hy was soos ‘n loot wat voor die Here uitgespruit het, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond.”

Hiermee word na Jesus se geboorte verwys. Hierdie  wêreld, dor en droog as gevolg van sonde, wou Hom nie ontvang nie. Hier was vir Hom geen plek gegun om gebore te word nie. Hy is geen verblyf op aarde gegun nie.:

“Die jakkalse het gate, die voëls het neste, maar die Seun van die mens het nêrens ‘n plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie.”

En tog: Hierdie aarde behoort immers aan die Here (Psalm 24). Maar die goddelose mensdom het Hom sy eiendom ontneem. Soos rowers het ons Hom geen plek gegun op Sy eiendom nie.

Maar ons sien nou ook hoe Hy wat Homself betref, verneder is en gely het. Hy het as die ideale mens sonder sonde na hierdie wêreld gekom. Ons het hierdie ideale Mens egter gesien as ‘n mens sonder voorkoms, sonder heerlikheid en sonder aansien. Hy was nie by mense van aansien in tel nie. Sy volgelinge  was die armes, die onaansienlikes, die sondaars en tollenaars. Op die ou end het ook hulle almal Hom verlaat. Almal het Hom toe verag. Mense het van Hom die nar van hierdie  wêreld  gemaak. Hulle het ‘n doringkroon op Sy kop gesit. Hulle het ‘n pers mantel om Hom gehang. Nog nooit was ‘n mens in hierdie wêreld so verag en bespot soos Hy nie.

En so laat God ons inkyk in die veragtelike en vernederende lyding van Sy Seun.

Maar dan kom die ware gelowige volgens verse 4 - 6 tot die skokkende ontdekking: Dit is eintlik ek wat die skuldige is. Deur my sondes is Hy so verneder en verag. Hy ly omdat ek gestraf moet word. Dit in Hom wat ons met soveel afsku vervul het, is ons sondes, ons boosheid wat Hy op Hom geneem het.

Ons het gewonder watter kwaad Hy gedoen het dat God Hom sò moes straf. Nou weet ons. Ter wille van ons oortredinge is Hy deurboor. Sy dood het veroorsaak dat ons kan lewe. Die vernietiging van Sy lewe het ons lewens gered en ons gesond gemaak.Sy lyde het vir ons weer ware vrede gebring.

So kan die gelowige  volgens vers 6  homself in ‘n nuwe lig sien. Hy kan terugkyk op die dor sondige pad van sy eie lewe.. Ons was soos ‘n uitmekaargejaagde trop skape. Elkeen het sy eie koers vol selfsug en hoogmoed gevolg. Maar Jesus het Homself verneder sodat ons weer een met Hom en met mekaar kan word.

In verse 7 - 9 word verder vir ons verkondig met watter gesindheid Jesus sy lyding gedra het deur al ons ongeregtighede op Hom te neem. Hy was hierin die gehoorsame dienskneg van Sy Vader.

Hoewel  Hy as gevolg van ons sondes onskuldig gemartel is, het Hy Hom nie hierteen verset nie. Hy het Sy mond nie oopgemaak nie. Die straf van ons sonde het swaar op Hom gebrand. Maar sonder verbittering en verwyt en opstand het Hy die smartlike lyding verduur.

Soos ‘n lam en soos ‘n skaap buig Hy gewillig en geduldig onder die geweldige straf van ons sondes op Hom. In gehoorsaamheid aan Sy Vader, sonder om voorwaardes aan ons te stel, was Hy bereid om Sy lewe  vir ons behoud af te lê.

Alles wat van Adam af deur die mensdom verwoes is, het Hy kom herstel deur ‘n slaaf van mense te word.

“Oor die sonde van my volk was Hy gestraf”, sê Jesaja. ‘n Straf wat uitgeloop het op Sy lyding en dood aan die kruis.

Wie kan Sy lyding beskryf? Sy liggaamlike pyn moes ondraaglik gewees het:

Die ontsteking in Sy wonde.

Sy liggaamsgewig wat die spykerwonde nog verder oopgeskeur het.

Sy asemhaling wat al moeiliker geword het.

Die brandende son en die ontsettende dors.

En dan nog die mensemassas, ‘n gepeupel wat skree en spot:” Red jouself as jy die Christus is !”

Maar die ergste: In daardie 3 uur van duisternis het God se toorn oor ons sonde  op Hom gebrand.

Wie kan beskryf hoe erg dit was? Die vloek aan die kruishout en Sy roukreet hierna?

“ My God, My God, waarom het U My verlaat!”

En dan die dood.

3.   Broeders en susters, dan vra die gelowige: “Maar waarom moes dit so erg gewees het? Waarom moes Hy so verskriklik verneder word en ly en sterf?’

God het ‘n plan hiermee, sê Jesaja in die derde deel, verse 10 - 12.

Deur Hom, deur Sy lyde en sterwe sal die Here Sy doel bereik.

Die offerdood van een was bedoel om baie mense regverdig te verklaar. Wie anders sal voor God kan bestaan behalwe net die mense wat uit genade deur Christus se lyding vry gespreek is van al hulle oortredinge?

Wie anders sal ‘kind van God’ genoem kan word as Christus nie vir Hom gely en gesterf het nie?

Wie anders sal meer as oorwinnaar kan wees as Christus nie die Satan en die dood oorwin het met Sy opstanding  uit die dood nie?

Omdat Hy deur Sy vernedering God en mens weer met mekaar versoen het, gee God aan Hom die sterkes as ‘n buit. Dit beteken: Hy ontvang alle mag in die hemel en op aarde. Daarom sal niks ons ooit weer van Hom kan skei nie: Geen wêreldmag, geen honger of vervolging of pyn nie. Ja, selfs nie eens die dood nie.

Die kneg van die Here het na hierdie wêreld gekom om die reg na die nasies te bring -  daardie reg om weer kinders van God genoem te word.

Dit is die boodskap wat ook met ons Kersfeesviering  verkondig moet word. Ware Kersfeesvierings handel oor die vernedering en sterwe en opstanding van Jesus Christus tot redding van ‘n verlore mensdom.

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

AMEN

Ds. H.P.Prinsloo (emeritus)
Bellville: 02/12/01 (aand)