Sing vooraf: Psalm 86:1; 36:2; 61:6; 116:4

Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 1, 2.

Geloofsbelydenis

Wet

Psalm 43:3

Gebed

Psalm 2:1, 3

Skriflesing: Daniël 3
Teks: Daniël 3:17, 18

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag.
Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.

Vir die geestelike wêreld en hoe dinge daar gebeur en vereis word, het mense gewoonlik baie min waardering of begrip. Dit was in Nebukadnesar se tyd ook so. Hy wou fisies demonstreer dat hy meer mag het as die onsienlike God wat deur die Jode aanbid word.
Dit was maar al die eeue so dat mense wat die Here werklik en opreg geken en gedien het in die noute gekom het oor hulle beginsels.
Uit die gedeelte in die Bybel wat hierdie geskiedenis beskryf, kom ons agter dat daar geweldige woorde geval het, en dat sommiges baie vernederend en verkleinerend van die Here gepraat het (v. 29).
Teenoor hierdie koning en sy manne met hulle aanslag op die lewe, openbaar die Here die optrede van die ware gelowiges. Wat doen gelowiges onder sulke omstandighede? Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord:

Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag . . .

Hulle bely dat God meer is as wat gesien of gehoor kan word. Die Here se mag kan meer doen as wat Nebukadnesar se vuur kan doen.
Daarom stel die drie vriende hulle belydenis ook baie duidelik:
 
Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie. (Daniël 3:15b-18).

Hulle weet baie goed dat God dit moontlik anders kan beskik: Die moontlikheid is daar dat die Here hulle nie van die vlamme van Nebukadneser se vuur sal verlos nie.
Dit laat mens onwillekeurig dink aan die Koragiete wat in Psalm 42:5, 11 (42:6, 12) sing. Hulle word deur die pyn van die lewe gebuig, maar hulle hoop leef vanuit ‘n ander wêreld – God se wêreld.:

Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God!

Nog ‘n voorbeeld is die apostel Paulus wat tydens die storm op die see net soos Daniël se drie vriende in God se redding geglo en dit ook vir die ander mense by hom gesê het:

Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is (Handelinge 27:25).

Die merkwaardige is dat die Here toe almal op die boot verlos het!
 
Hoe kon al hierdie mense dit regkry om so sterk te getuig van God se verlossing en dit dan aan hulle liggame deur te maak? Omdat hulle nie hulle oplossings in die fisiese wêreld gesoek het nie, maar eerste hulle sake met die geestelike wêreld reggemaak het. Hulle het biddend met God saamgelewe.

Toe die Here die verbond by Sinaï met die kerkvolk gesluit het, het Hy die reëls baie duidelik en vas neergelê. Hy het gesê:

As jy maar net luister na die Here jou God en gehoorsaam is aan al hierdie gebooie wat ek jou vandag gee en daarvolgens lewe, sal daar nie 'n arme onder jou wees nie, want die Here sal jou baie voorspoedig maak in die land wat Hy jou gee om as jou eie te besit (Deuteronomium 15:4-5).

Die vertrekpunte word duidelik gestel:
Waar mense (en selfs volke) nie na die Here wou luister nie, het sy straf onmiddellik in werking gekom. ‘n Baie sprekende voorbeeld hiervan is Daniël se belydenis:
Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het (Daniël 9:10).
. . . wat julle moet gehoorsaam en waarop julle ag moet slaan, is om my Naam te eer, sê die Here die Almagtige. As julle dit nie doen nie, sal Ek 'n vervloeking oor julle bring en 'n einde maak aan al julle voorspoed. (Maleagi 2:2).

Al die voorbeelde in die Bybel van mense wat die materiële wêreld as eerste oplossing geplaas het, het hulle uiteindelik in die vernietiging van die Here se oordeel vasgeloop.
Daar is natuurlik die negatiewes wat openlik verkeerd is en dan die gelowiges met hulle dwaalleer terroriseer. Dit was sulke mense wat deur Petrus en Johannes tereggewys is toe hulle gesê het:
 
Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God (Handelinge 4:19).
Let daarop dat dit nie net gaan oor wat ons bely nie, maar ook oor hoe ons dit bely.
Die duiwel het presies dieselfde ding met die Here Jesus probeer. Toe Hy na veertig dae verhonger en verdors was, het hy die Here aangeval en Hom probeer verlei om langs die dood verby te gaan. Die belofte was dat hy vir die Here al die koninkryke van die wêreld sou gee as die Here Hom net aanbid.
Hy het toe gekies om te sterf – net soos wat die drie vriende eerder die vuuroond verkies het om daarmee aan God gehoorsaam te wees. Daar was egter ‘n baie groot verskil tussen die uitkoms van die Here Jesus se saak en dié van die vriende.
Hierdie verlossing was so ewig en kragtig dat dit selfs in die tyd kon terugwerk. Die ongelowige Nebukadnesar het Jesus in sy verlossende werk oor sy gelowiges daar in die oond raakgesien. Die Here se verlossende teenwoordigheid verlaat ons nooit. nie Nebukadnesar kon nie alles verstaan nie, maar dit was vir hom duidelik dat die vierde een gelyk het soos ‘n Godeseun.

Waar staan ons nou? Die Here gee die antwoord: Wie die Here se gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom.
Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, . . . (1 Johannes 5:3).

Let op dat die Bybel nooit sê dat dit lekker of aangenaam is om gehoorsaam te wees nie. Dit is nie moeilik nie, sê die Here.
Ons moet onsself die vraag afvra: watter god sal ons uit die Here se mag kan red wanneer ons perspektiewe en waardes in hierdie lewe verkeerd aangelê was en ons nie by sy wil uitgekom het nie?
Amen.

Slotgebed

Slotpsalm 138:1

Die HERE sal jou seën en jou behoed; 
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; 
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 22 November 1998. Intreepreek Bellville 24 Januarie 1999.
               9 November 2003. Oorgemaak en aangepas.