Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
 
Lofpsalm  9:9, 10.
 
Gebed.
 
Psalm  103:9
 
Skriflesing: Efesiërs 2

Teks:  Kategismus Sondag 7. Efesiërs 2:8, 9

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie:  dit is die gawe van God;  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
 
Dit is ‘n saak van groot gewig waarvan hier gepraat word.  Uit genade is julle gered.
Hierdie Sondag leer ons by uitstek van God se genade.

1.        Dat die genade beperk is tot sekere mense.
2.        Dat die genade deur die geloof is.
3.        Dat die genade van God volgens die Evangelie is.
 
Die genade is partikulier.  1 Korinthiërs 15:22 leer dat alle mense deur Adam se sondes sterwe.  En dan net daarna weer dat Christus gekom het tot die verlossing van die wêreld.  Dit lyk hier asof Christus vir die hele wêreld gesterf het, maar wanneer mens ander Skrif-gedeeltes hiermee vergelyk, dan blyk dit dat dit heeltemal anders is.
En dan staan daar die treffende woorde in vers 11:

Want toe die kinders nog nie gebore was nie, en nog geen goed of kwaad gedoen het nie – dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep, …
 
God het dus lankal besluit dat daar mense is wat sy liefde gaan deel en ander wat nie die ewige lewe sal hê nie.
Daarom openbaar vers 13 dat God voor die twee se geboorte al gesê het:

 Jakob het Ek liefgehad, en Esau het Ek gehaat. 

Toe God sy Raad beplan het, het Hy al besluit hoe die mense sal wees.
 
Daarom is die Heidelbergse Kategismus heeltemal reg as vraag 20 leer dat Jesus Christus beslis nie vir alle mense gesterf het nie, maar alleen vir diè wat deur Hom in ‘n ware geloof ingelyf is.
Verder hoor mens ook dikwels die argument dat Christus gesterf het vir diè wat hom aanneem.  So asof dit binne die mens se vermoëns is om God te kan weerstaan/verwerp of te aanvaar. 
Dit is nie net onlogies nie, dit is ‘n skending van God se mag.
… ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid, en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
 
Dit is tog baie duidelik.
2.      Die genade is deur die geloof.
 
Maar daar is ‘n baie sterk verband tussen hierdie genade en ons geloof.
Jy kan met sekerheid weet of jy uitverkore is of nie.  Jou geloof bepaal dit.  Daarom die vraag hier oor die geloof.  Wat is ‘n ware geloof?
Die feit dat ons glo aan ons verlossing deur die Here Jesus Christus is die bewys dat God die Heilige Gees in ons werk, en dat ons daarin reeds deel in die weldade van Jesus Christus.  Die geloof maak dan ons oë oop, sodat ons die liefde wat God elke dag en elke oomblik aan ons bewys, kan sien  -  om die genade in ons lewe te ken.
 
Geloof is die genadige inwerking van God in ons hele lewe.
Maar geloof is nog meer.
3.      Die genade van God is volgens die Evangelie.
 
Wat is God se toorn en genade?
Wat is nou die krag van hierdie leer?
Die laaste vraag is:  wat is vir die Christen nodig om te glo?  Dan antwoord ons:  alles wat in die Evangelie beloof word.
Ons het verlede week Nagmaal gevier.  U het almal saam met Christus aan die tafel kom sit omdat u geloof rus op Hom en sy verdienste.
Maar ons het nie in eie kragte aan die tafel kom sit nie.  Ons kon nie, want Christus het ons in die Woord baie duidelik geleer wie daar mag aansit en wie nie.  En nie een van ons kon skuldvry naderkom nie.
 
Maar dit is juis die krag van ons godsdiens, dat ons glo dat ons ingelyf is in die weldade van Christus.
Leef dan verder ‘n lewe wat by hierdie geloof pas.  ‘n Lewe waardig aan God se genade.  Dankbaar teenoor God.  Ywerig in ons verantwoordelikhede.
 
Kom ons kyk na ons belydenis oor hierdie saak: Heidelbergse Kategismus Sondag 7:

Vraag 20:  Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
 
Antwoord:  Nee;  (a);  maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).

(a)Matt 7:14;  22:14.  (b) Mark 16:16;  Joh 1:12;  3:16, 18, 36;  Jes 53:11;  Ps 2:12;  Rom 11:20;  3:22;  Heb 4:3;  5:9;  10:39;  11:6.
 
Vraag 21:  Wat is 'n ware geloof?
 
Antwoord:  'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

(a)Jak 2:19.  (b) Heb 11:1, 7;  Rom 4:18-21;  10:10;  Ef 3:12;  Heb 4:16;  Jak 1:6.  (c) Gal 5:22;  Matt 16:17;  2 Kor 4:13;  Joh 6:29;  Ef 2:8;  Fil 1:19;  Hand 16:14.  (d) Rom 1:16;  10:17;  1 Kor 1:21;  Hand 10:44;  16:14.  (e) Ef 2:8;  Rom 3:24;  5:19;  Luk 1:77, 78.  (f) Rom 1:17;  Gal 3:11;  Heb 10:10, 38;  Gal 2:16.
 
Vraag 22:  Wat moet 'n Christen glo?
 
Antwoord:  Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

(a)Joh 20:31;  Matt 28:19;  Mark 1:15.
 
Vraag 23:  Hoe lui die artikels?
 
Antwoord:  (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.  (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;  (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;  (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;  (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;  (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.  (8) Ek glo in die Heilige Gees.  (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;  (10) die vergewing van sondes;  (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.

Amen.
  
Slotgebed.

Gee aan ons geloof vleuels soos die van ‘n arend, Here, sodat ons mag opstyg in die hoogste hoogtes van die geloof.  Sodat ons naby die hemele kan kom, U van naby kan ken.  Sodat ons kan glo, en verlang om vir ewig by U te lewe.  Om Christus wil.

Amen.

Skrifberyming  1-1:3

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.

Amen.
   
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 5 September 2004. (aand)