Sing vooraf: Skrifberyming 9-3:1, 2 (nuut)

Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 103:1, 9
Geloofsbelydenis

Ons antwoord op die wet van die Here deur Skrifberyming 9-1:11 (26:11) te sing.
Wet
Skrifberyming 9-1:11 (26:11)

Gebed
Skrifberyming 5-3:1, 2 (8:1, 2)
Skriflesing:     Galasiërs 4
Teks:               Galasiërs 4:4; Kategismus Sondag 2
Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, (Galasiërs 4:4 AFR53)

Wie sou ooit enige lig vorentoe kon sien as ons oor ons sondes moes praat sonder die Here Jesus Christus?

Om die saak van die geweldige groot verlossende genade wat ons in die Here Jesus het te beklemtoon, doen die Heilige Gees in die gedeelte iets wat ons in ’n sekere sin ’n afwyking kan noem.
In dié beeld is die kerk ’n kind. ’n Kind wat nie vir homself kan dink nie.
Die Bybel vertel watter probleme die kind het.
Maar God het die dinge vir die kind verander. Die kind was steeds onbekwaam om te erf toe die testament gelees moes word.
God het sy Seun uitgestuur om die kind uit die penarie te verlos waarin die kind vasgevang was.
Dis eintlik baie snaakse woorde wat die Bybel hier gebruik: Gebore onder die wet – met ’n voorafgaande kwalifikasie: gebore uit ’n vrou.
Wat bedoel die Bybel met die wet? Die wet waarmee die kind wat moet erf so sukkel en die wet waaronder die Seun van God gebore is? Een ding is duidelik: die woord wet het in die Bybel nie elke keer die Tien Gebooie beteken nie! Dit het soms ’n baie wyer betekenis gehad as dit.
Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die Here. (Levitikus 18:5 AFR53)
Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. (Romeine 10:5 AFR53)

Maar daar is ander voorbeelde waar die woord wet nie net die Tien Gebooie beteken nie, soos byvoorbeeld:
Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, . . . Johannes 10:34, 35.
Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens? Johannes 12:34
Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat. Johannes 15:25
Die apostel Paulus het weer onder die woord wet die leer van ons saligheid verstaan.
Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. (Romeine 3:27 AFR53)
En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. (Jesaja 2:3 AFR53)
Job impliseer eenkeer die wet van die Here, en dan stel hy dit voor as ’n weegskaal. Dus ’n middel waarmee God oordeel om sy regspraak te kan uitvoer.
As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!
Job 31:5, 6.

Met al die dinge nou in ons gedagte dink ons weer aan die uitspraak wat gemaak word teenoor die klompie kerke wat daar in Galasië was.
Nou gaan ons terug na die brief wat aan die kerke in Galasië geskryf is. Teen die agtergrond nou van die kind wat moet erf maar nie eintlik in staat is om sy verantwoordelikheid na te kom nie, skryf die Here vir hulle verder wat die gevolge daarvan is dat sy Seun onder die wet vir hulle gebore is.
En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
Dit is waarom daar in die Galasiërbrief die woorde geskryf word:
Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie;

Hulle ken dus nou die Here.

Maar die stout kind neig alweer terug na die stoutigheid van hom en sy gruwelike vriende toe. Nou maan die Heilige Gees hom aan:
. . . maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

Die dreigement lê vlak in die Here se woorde: Julle gaan armoedig wees – omdat julle nie leefgeld het nie. Die leefgeld is juis die erfporsie wat hulle gaan verbeur as hulle gaan terugval weg van die Here af!

Die Here vertel vir hierdie stout kind wat nou regkom presies wie sy vriende is en hoe sleg hulle invloed op sy lewe is:

Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer.

Die duiwel en sy maters werk in en met die kerk.
Die Galasiërkerke het gedink dat hulle juis op die voorpunt was van gelowig wees.
Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?

Daarom gaan die Heilige Gees verder en verduidelik vir hulle die verskil tussen wettisisme en die genadeverbond – soos wat dit in die Here Jesus vervul word.
Die Heilige Gees verduidelik dan wat die verskil beteken. Dié twee vroue staan vir twee verbonde:
Die Here gaan dan verder deur Paulus se pen en verduidelik dat die ware kerk kinders van die belofte is, soos Isak.

Die Bybel trek dan ’n konklusie wat altyd vir die kerk geld.
Die slot is weereens ’n sterk verkondiging van genade aan ons:
Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye. Galasiërs 4:30, 31.

Dis ons troos: Kennis van ons ellendes alleen sou ons wanhopig maak. Dit sou ons lewe op die aarde hel maak, want ons sou in haat en verwyt en selfverwyt en verbittering ingesink het.

Maar nou kan ons onsself sien in die genade wat God gee in die Here Jesus Christus. Ons is nuwe mense wat met God versoen is en wie se sondes vrygeskeld is deur die dood en straf wat die Here Jesus vir ons gedra het.

Kom ons kyk saam wat ons belydenis hieroor sê in die Heidelbergse Kategismus Sondag 2:

Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a )Rom 3:20.

Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a) Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27

Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a) Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer 17:9; Rom 7:23.

Amen.

Slotgebed
Slotpsalm 1:1

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 15 Januarie 2006 (oggend)