DIE WêRELDOORLOG OOR TWEE BEDELINGS

Ds. H.P.Prinsloo

Bellville

03/02/2002

Lees: Genesis 3: 1-19 Openbaring 12:1-6; 13-17

Teks: Genesis 3:15

 Sing: Psalm 84: 1,2 94:6, 68:1 68:2

Broeders en susters, ons smag met ons hele wese na vrede en bestendigheid in ons land. Trouens, die hele wêreld is daarop ingestel om vrede wêreldwyd te bevorder. Maar daar sal nooit vrede kom voordat die Here op die wolke verskyn nie. Hierdie wêreld is bestem vir ‘n voortdurende uitmergelende oorlog. Alles wat in ons land en wêreldwyd aangepak word om wêreldvrede te bewerk , sal op ‘n mislukking uitloop.
 
Miskien klink die verklaring vir ons baie negatief en verontrustend en afbrekend. Ons soek juis na bemoediging en vertroosting in hierdie neerdrukkende tye. Ons wil van die preekstoel af van vrede hoor en nie van oorlog nie. Ons hoor genoeg van oorloë en geweld oor die media.

Broeders en susters, die Here wil hê dat ons hierdie wêreldtoestand in die regte pespektief moet sien. Sy Woord verkondig nie net vrede nie, maar ook oorlog - ‘n geweldige oorlog. Trouens Jesus self het gesê: “ Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring.”

Of ons dit nou wil weet of nie, ons is almal by hierdie oorlog betrek. Die Here self het hierdie oorlog verklaar toe Hy na die sondeval vir Satan gesê het: “ En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt.”

Broeders en susters, dit is nodig dat ons moet weet wat die aard van hierdie oorlog is sodat ons positief daarby betrokke sal raak. Hierdie oorlog raak ons persoonlik. Dit raak ons as kerk hier plaaslik en dwarsoor die wêreld.

Daarom moet ons eerstens by die oorsake van die oorlog begin. Geen oorlog begin immers sonder oorsake nie, ook nie die oorlog wat die Here teen Satan verklaar het nie.

Maar waarom?
In Gen. 1 en 2 lees ons van die skepping. Die Here het alles geskape. En Hy het dit baie goed gedoen. Sy doel is dat Hy as die Ewige Almagtige God en Koning oor alles verheerlik en met lofprysinge gedien sal word.

Maar een van Sy skepsels - ‘n engel - het teen sy Skepper in opstand gekom. Omdat hy die eer en heerlikheid wat God alleen toekom vir homself wou opeis, het hy hom met ‘n verwoede en sluwe aanval op die skepping van die Here toegespits. Hy het sy aanval veral op die mens toegespits, want die mens was die beste, die kroon van die skepping. Hy het geweet waar hy die koninkryk van God die gevoeligste slag kan toedien. Die Here het juis die mens na Sy beeld geskape om sy heerskappy uit te straal. In en deur die mens sou God oor die aarde regeer as Here en Koning. As Satan hierdie beeldskap, hierdie innige en intieme verhouding tussen God en die mens kon verbreek, dan sou hy ook die Here se heerskappy op aarde verbreek.

In die Paradys het hy daarin geslaag om ‘n einde aan hierdie besondere verhouding te maak. Die mens wat so goed geskape is, het aan sy Skepper ongehoorsaam geword.

Natuurlik kon die Here alles wat Hy so wonderlik gemaak het in ‘n oogwink uitgewis het, maar Hy het nie. Inteendeel, Hy verklaar oorlog. Voortaan sal die verloop van die wêreldgeskiedenis gekenmerk word as ‘n lang, uitgerekte oorlog. Hierdie oorlog sal ‘n oorlog wees tussen God en Satan; tussen lig en duisternis; tussen goed en sleg; tussen reg en onreg; tussen liefde en haat; tussen waarheid en leuen.

“ Ek sal vyandskap stel:” sê die Here. Hy het egter nie net die oorlog verklaar nie. In hierdie oorlogsverklaring het Hy ook bepaal wie teen wie oorlog sal maak.

Tweedens moet ons dit uit hierdie teks vasstel. In die oorlogsverklaring bring Hy skeiding tussen die slang en die vrou. Hy verbreek hierdie onheilige bondgenootskap wat daar tussen die Satan en die mens in die Paradys ontstaan het.

“Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou..”

Hy stel hulle in twee vyandige partye teenoor mekaar op. Hy maak dit met hierdie oorlogsverklaring ook onmoontlik dat daar ooit weer sprake kan wees van ‘n vredessluiting. Daar sal nooit weer vrede wees nie - nie in hierdie wêreldgeskiedenis nie. Want dit is nie net ‘n oorlog tussen die slang en die vrou nie, maar ‘n oorlog tussen die slang se saad en die vrou se saad. Dit sal dus ‘n voortdurende oorlog wees tussen die nakomelinge van die duiwel en die nakomelinge van die vrou.

So het die Here met hierdie oorlogsverklaring die mensdom in die wêreld in twee teenoorgestelde groepe verdeel. Daar is die nakomelinge van die slang. Dit is hulle wat in ongelowigheid en goddeloosheid volhard deur aan die satan gehoorsaam te wees:- die selfsugtige , eiegeregtige, hoogmoedige mense wat self God wil wees, - die wêreldmens.

En dan is daar hulle wat die Here uit genade uit die hande van Satan geruk het om Sy bondgenote vir die oorlog te wees. Die vrou waarna in hierdie oorlogverklaring verwys word, is die kerk op aarde .Daar word dikwels in die Bybel na die kerk as vrou verwys. (Openb.12). Hierdie oorlogsverklaring wys dus op die onversoenbare vyandskap tussen die kerk en die wêreld. Dit sal ‘n oorlog tot die bitter einde wees. Daar sal nooit sprake kan wees van ‘n moontlike vredessluiting nie.

Omdat die Here self die oorlog verklaar, is Hy die Aanvoerder van sy kerk teenoor Satan, die vors van die wêreld.

Hierdie oorlog is nie net tot die wêreld beperk nie. Dit is nie net ‘n stryd tussen kerk en wêreld nie, maar ‘n stryd wat bo die vlak van die wêreld uitstyg. Dit is ‘n oorlog tussen God en Satan. Dit is ‘n oorlog waarvoor niemand kan vlug nie. Niemand kan in hierdie oorlog neutraal staan nie, ook nie ons nie. Almal is by die oorlog betrokke. Daarom mag ons die dodelike erns van die oorlog nooit onderskat nie.

Dit is derdens ook nie ‘n oorlog waaroor ons as kerk hoef te wonder oor hoe dit sal verloop en wat die uitslag sal wees nie. Die Here maak ook dit aan ons bekend as hy verklaar: “ Hy (wat uit die vrou kom) sal jou kop vermorsel, en jy sal Hom in die hakskeen byt.”

Na regte word in Hebreeus nie die woord “byt” gebruik nie, maar ook die woord ”vermorsel ,” - “...jy sal Sy hakskeen vermorsel.”

Die woord “ vermorsel “ sê vir ons hoe intens hierdie oorlog sal wees. Daar sal geen genade gegee of gevra word nie. Daar sal geen sprake wees van ‘n wapenstilstand of van samesprekinge en kompromieë om ‘n einde aan die oorlog te probeer maak nie. Die twee partye sal in hierdie oorlog mekaar probeer vermorsel. Hulle doel sal wees om die een die ander heeltemal te vernietig.

Die Here sê in hierdie teks ook vir ons wie die oorwinnaar sal wees. Hy wie se kop vermorsel gaan word, die satan en sy weermagte, sal op die ou end die verloorder wees. Hy sal geheel en al vernietig word.

Aan die ander kant sal dit nie ‘n maklike oorwinning vir die Here en vir die kerk op aarde wees nie. Die Oorwinnaar sal self baie pyn en lyding moet verduur a.g.v. ‘ n hakskeen wat vermorsel word. In hierdie oorlog is die lyding vir ons as kerk nie uitgesluit nie. Ons sal bereid moet wees om baie te ly en swaar te kry. Trouens, volgens die samestelling van die oorlogsverklaring , sal dit met die kerk van die Here aanvanklik uiters ellendig gaan.

In die eerste gedeelte van die oorlogsverklaring geniet die slang die voorrang. Hy word eerste genoem. Dit is ‘n oorlog tussen “jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad.” In die eerste fase van die oorlog sal dit voorkom asof die slang en sy volgelinge die oorhand het oor die kerk. Dit sal voorkom asof die Here aan die verloorkant staan.

Maar dan breek die tweede fase aan. Die orde word omgeruil. Dan word die vrouesaad weer eerste genoem : “... Hy sal jou die kop vermorsel...” Die oorlog draai in die guns van die kerk. Die oorwinning word vir die kerk oor die wêreld verseker.

Die Here maak dus aan ons bekend dat daar in die oorlog twee bedelings sal wees. Dit is die ou bedeling en die nuwe bedeling - die bedeling van die ou Testamentiese tyd en die nuwe bedeling , die bedeling van die Nuwe Testamentiese tyd wat begin het met Christus se eerste koms.

Die twee bedelings staan egter nie los van mekaar nie, want die oorlog duur nog voort in die nuwe bedeling. Hoewel ons reeds in die nuwe bedeling is, bevind ons ons ook nog in die ou bedeling.

Maar laat ons nou eers kyk hoe hierdie geweldige oorlog tot nou toe verloop het soos die Here dit in Sy Woord aan ons openbaar het.

Wat die verloop van die oorlog in die ou bedeling voor Christus se koms betref, het dit gelyk asof Satan telkens die oorhand het. Al die wêreldmagte is ingespan om die koms van Christus te verhoed. ( vgl. Op.12).

Die eerste mense was skaars uit die Paradys, toe begin die oorlog. Satan behaal die eerste oorwinning toe Kaïn uit die slangesaad, sy broer Abel uit die vrouesaad, vermoor. Maar die Here gryp in met die geboorte van Set.

Dan neem die getalle uit Kaïn tot in die sewende geslag by Lameg, die geweldenaar , toe. Aan die ander kant groei die kerk van die Here uit Set tot by die sewende geslag met Henog.

Die kerk en wêreld staan in Genesis 4 en 5 lynreg teenoor mekaar. Maar Gen. 6 vertel ‘n tragiese verhaal oor die seuns van God en die dogters van die mens :- die kerk sluit hier vrede met die wêreld. Dit het gelei tot byna die totale uitdelging van die mensdom, want die mensdom het goddeloos geword. Satan wou dit gehad het, maar die Here gryp in met Noag en sy gesin sodat die oorlog voortgesit sal word.

Satan behaal weer byna die oorwinning met die goddelose Babel. Weereens gryp die Here in met hulle verstrooiing. Dan lyk dit asof die Here vir die derde keer vooraf moet begin met die roeping van Abraham. Uit Abraham verwek Hy een volk - Sy modelvolk, Sy uitverkore bondgenote in hierdie geweldige oorlog teen Satan en ‘n goddelose wêreld.

Satan se aanvalle word toe spesifiek op Israel toegespits. Nog in Egipte probeer hy al die seuntjies doodmaak om die geboorte van Christus te verhoed. Maar Moses word wonderbaarlik gered om die verbondsvolk uit Egipte na Kanaän te lei.

Israel se verblyf in Kanaän as bondgenote van die Here was egter ‘n droewige verhaal : Hulle moes die heidene uitroei, maar doen dit nie. Hulle verval in afgodediens en skeur daarna in twee ryke . Die tien Noordelike stamme word in ballingskap weggevoer en verdwyn as ryk. Net twee stamme bly oor nl. Juda . Dan volg die ballingskap van die koninkryk van Juda uit wie Christus gebore sou word.

In die tyd van Ester met Hamman se goddelose planne wil Satan die Jode almal om die lewe bring, maar die Here gee ‘n wonderbaarlike uitredding.

Vir Juda kom daar verlossing uit ballingskap ‘n Klein groepie keer terug as God se verbondsvolk om die oorlog voort te sit. Maar ook hulle misluk op die ou end.

So skets die Ou Testament aan ons die tragiese verhaal oor hoe die vrouesaad, die kerkvolk van die Here, misluk het. Die kring om die vrouesaad het altyd nouer en nouer getrek totdat daar later niemand meer oor was nie.

Hiermee, broeders en susters, toon die Here aan ons die onvermoë van die mens om vir Hom te lewe en te veg. Ons het niks in onsself om in te roem nie, en tog het die Here hierdie oorlog nie afgelas nie. Die oorwinning sal behaal word. Die Here self sal daarvoor sorg soos dikwels in die Ou Testamentiese tyd die geval was.

Toe daar eindelik geen mens meer was deur wie die Here die oorwinning oor Satan kon behaal nie, toe gebeur die wonder. Iemand uit die vrou, maar ook uit God is in hierdie wêreld gebore. Die Here sal deur hierdie Iemand uit die vrouesaad die Satan oorwin. Hy en Hy alleen sal in die laaste vesting die stryd teen Satan aanknoop. Eindelik het Satan die onderspit gedelf, want hy kon die geboorte van die Een uit die vrou nie keer nie, en daarom trek die oorlog wat God verklaar het saam op twee persone:

- op Hy uit die vrou

En jy, Satan.

Op Christus en Satan.

God se oorlog het uitgeloop op ‘n oorlog waarin Christus alleen die oorwinning vir die vrouesaad behaal het. (Hy sal jou die kop vermorsel...) Satan se mag is gebreek . Hy kan nie meer die volke en nasies heeltemal verlei soos in die verlede nie.

Maar dit was ook ‘n oorlog waarin Satan Hom in die hakskeen gebyt het. ‘n Oorlog wat met Christus se geboorte in intensiteit geweldig toegeneem het totdat die finale slag op daardie Vrydag op Golgotha gelewer is - ‘n oorlog waarin die slang aanhoudend aangeval het sodat die slag van Golgotha nie moet plaasvind nie;
En toe aan die kruis: toe daar met Hom gespot is om af te kom van die kruis as Hy die Christus is.

En die ergste toe Hy deur God verlaat is om alleen in die duisternis teen die magte van die Bose te stry.

Maar Hy het oorwin toe Hy daarna uitgeroep het: “ Dit is volbring!” Die slang se kop is vermorsel !

En toe het Hy Hom aan die dood oorgegee om die dood as straf op ons sonde te oorwin met sy opstanding . Die sonde, die angel van die dood is uitgeruk. Jesus het ten volle betaal vir al ons sonde. Satan kan ons nie meer aankla nie. Hy kan die nasies nie meer in geheel verlei nie.

En so, broeders en susters, het die nuwe bedeling in hierdie oorlog aangebreek. Dit is die bedeling wat hierna gekenmerk word met geweldige groei aan die kant van die vrouesaad. Pas na Pinkster is die eerste 3000 gedoop. Daarna 5000. Daarna val Judea in die hand van die Here. En toe Samaria. En toe Galilea. En toe stroom die leërs van die Here deur die apostels oor landsgrense heen met die swaard van die Gees, die Woord.

Oral word kerke gestig . Eers Asië - toe Europa. Handelinge beskryf hierdie oorwinningtog deur die wêreld.

Natuurlik is daar oral weerstand gebied. Satan se mag is verbreek. Maar hy veroorsaak nog groot tragedies. Ons sien dit in die vervolging van die eerste Christene.; in valse leerstellinge wat verkondig word. Maar die verloste volk van die Here bly getrou tot die dood toe. Hulle volhard in die geloof. Satan weet dat dit vir hom nog net ‘n kwessie van tyd is. Wanneer Jesus weer kom sal die finale slag gelewer word. Vir die duiwel en sy leërmagte sal dit vir altyd verby wees. Maar vir die vrou, die kerk van die Here , breek op daardie dag die ewige vrede in sy volle heerlikheid vir altyd deur op die nuwe aarde.

En nou, broeders en susters, ons bevind ons reeds in die nuwe bedeling van vrede met die Here. Maar ons bevind ons ook nog in die ou bedeling van geweldige oorlog met die Satan en die goddelose wêreld. Ons is egter seker van die oorwinning. In Christus is ons oorwinnaars. Juis daarom mag ons nie stilsit nie. Ons moet die stryd stry en die oorlog tot die einde toe veg. Hoe nader na die einde , hoe feller sal die aanslae van die duiwel word. Ons belewe dit reeds. Ons as kerk hier plaaslik saam met al die kerke hier en in ons land, sal die stryd gemeenskaplik, hand aan hand moet stry. Ons durf nie op ons louere rus asof daar geen stryd meer is nie, want ons lewe in gevaarlike tye waarin die goddeloosheid skrikwekkend toeneem.

Daar gaan met die nuwe onderwysbeleid ‘n geweldige aanslag op ons kinders gemaak word. Ons as ouers en as kerk sal die verbondsjeug vroegtydig moet toerus om die aanslae te trotseer.

Die druk op ons christelike kerke sal toeneem. Ons sal gedwing word om ons ekskluwiteit, ons andersheid, prys te gee. Die openbare massa sal minder verdraagsaam teenoor ons wees. Van regeringskant af sal ons geen ondersteuning kry nie. Alle wette wat die christelike waardes en norme beskerm, het verdwyn. Nuwe wette kom wat die sondige en verkeerde wettig.

Ons sal alleen werklik christene kan wees as ons dit wil wees.

Maar ons stry tog nie alleen nie. Christus stry vir ons sodat ons met Hom die oorlog kan wen. Daarom moet ons as gelowiges oral met oortuiging en oorgawe toetree tot hierdie stryd. Ons is immers verseker van die finale oorwinning met die wederkoms van Christus.

AMEN