Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 23:1, 2

Geloofsbelydenis

Wet

Psalm 73:12

Gebed

Psalm 22:4

Skriflesing:    Haggai 1
Teks:            Haggai 1:13

Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE (Haggai 1:13 AFR53).

Ons ervaar gewoonlik die swaarkry wat oor ons kom, as baie negatief. Dalk is dit nodig dat ons weer kyk na die doel waarvoor die Here swaarkry oor mense gebruik.
Kom ons gaan ondersoek hierdie stuk openbaringsgeskiedenis vanuit die volgende twee gesigspunte:
1. Die Here en die (heiden)volke van die wêreld
2. Die Here en die leiers van die (gelowige) volk

1. Die Here en die (heiden)volke van die wêreld
Om hierdie gedeelte in die Bybel behoorlik te kan verstaan moet ons eers gaan kyk na die praktiese lewe soos wat dit in die alledaagse geskiedenis afgespeel het in Haggai se tyd.
Dit beteken iets dat ons sy ouderdom in ag neem, want daaruit is dit duidelik dat hy sy volk se hele geskiedenis saam met hulle deurgemaak het – godsdiensgeskiedenis sowel as die alledaagse geskiedenis.
Saam met die insig in die besondere plek wat Haggai in die geloofsgeskiedenis van Israel inneem, moet ons verder kyk na die verhouding tussen die Here en die heidenvolke in al hierdie gebeurtenisse.
Nadat Kores een jaar aan bewind was in Babel (in die jaar 538), het hy die Jode toestemming gegee om na hulle land toe terug te gaan.
Mens sou nou dink dat die Jode oor hulle voete sou val om terug te gaan na hulle land toe, maar dit was nie so nie. Die Jode het nie haastig op hierdie besluit gereageer nie.
Na ’n jaar het daar twee leiers na vore gekom wat die Jode georganiseer het – Serubabel en Esra.
Die klomp was vol moed en het ook inderdaad, toe hulle in die land aankom, dadelik gaan kyk waar die tempelterrein was, en die brandofferaltaar herstel.
Nou moet ons die saak ontleed en kyk hoeveel geloofsenergie die volk in hierdie poging tot herstel van hulle godsdiens en hulle volk ingesit het.
Hoeveel droefheid moes die Here nie beleef het oor hierdie volk van Hom wat eers vir die wêreld gekyk het voordat hulle kans gesien het om Hom te vereer nie?
2. Die Here en die leiers van die (gelowige) volk
Kyk net hoe groot is die liefde van die Here! Toe die uitverkore volk van die Here te swak of te sleg was om Hom te dien soos wat Hy van hulle gevra het, het die Here ’n heiden gestuur om hulle feitlik te dwing om dit te doen. Toe kon hulle darem die werk voltooi in die maand Maart van die jaar 515 v.C.

Dit lyk nou na ’n verhaal wat uiterlik so mooi geëindig het. Alles is mos nou reg, waaroor sal daar enige bekommernis wees? Kom ons gaan kyk eers na die binnewerke van hierdie stuk geskiedenis.
Kyk hoe het die saak tussen die Here en die uitverkore volk verloop:
Dan kom die oorlog met die Babiloniërs en die Ballingskap. Dit is swaarkry en lyding.
In Babel gebeur daar ’n soort van ’n uitsorteringsproses.
Toe kom sommiges van hulle terug – nie na ’n land wat oorloop van melk en heuning nie, maar na ashope en ruïnes toe.
In hulleself was daar nog meer pyn, want die profete het hulle altyddeur loop en verwyt dat hulle die pyn en lyding verdien, want hulle het dit oor hulleself gebring.
Daar is vandag ook mense wat glo dat jy met jou geloofsoortuigings maar ’n lae profiel moet hou, want netnou maak jy ander mense kwaad. En dan kan hulle – net soos hierdie Jode – nie verstaan waarom daar so baie hartseer oor hulle kom nie.

Kyk nou net hoe groot is die Here se liefde. Hy roep hierdie baie ou man nader om weer die regte ywer by die volk te laat wakker word.
Dit is ook mos ons teksvers (Haggai 1: 13):

Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE.


Dit is die belangrike ding: In hulle hartseer hoor hulle die Here se woorde:

Ek is met julle, sê die Here!


Die oorsaak van al die ellendes lê by hulleself. Die hele volk is betrokke – die leiers ingesluit. Dit was tye van verandering:
•    Ten tye van die profesie van Haggai was die nuwe heidense regering nog maar net twee jaar in die stoel.
•    Die volk word sterk geroskam, want die profeet wys hulle daarop dat hulle nie werklik ’n verskoning het vir hulle slapheid teenoor die Here nie, want hulle het in die tussentyd gesorg dat hulle eie welvaart so goed as moontlik gevestig word (Haggai 1:3, 4).

Hierdie vermaning beteken vir ons baie, want daarmee openbaar die Here dat baie van ons verskonings waardeloos is, omdat die klem in ons lewe verkeerd lê.
Lees vers 6 en 7 en 9 tot 11:

. . . julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek. So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! (Haggai 1:6-7 AFR53)

Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande. (Haggai 1:9-11 AFR53)

In vers 8 maak die Here ’n belofte: As sy volk die tempel herbou, met ander woorde hulle godsdiens opknap en Hom van harte dien soos wat Hy dit verlang, dan sal die Here sy seën vir hulle gee.

Wat gebeur nou? Die mense besef twee dinge tegelykertyd:
Al die swaarkry was om hulle terug te lei na die Here se liefde toe.

Die volk luister toe. Die Bybel openbaar dat die diepste grond vir hulle bekering geleë was in die feit dat die volk die Here gevrees het.
Die Heilige Gees het almal meteens in beweging gebring.
Wat in hierdie stuk geskiedenis opval, is dat die Here Homself elke keer met die Naam JHWH noem.
Dit laat ons met hierdie ernstige vraag: Waarom? Waarom verdelg die Here nie die mense nie. Hy het ’n klomp sondige Jode weggevoer na Babilonië toe en Hy het net so ’n sondige klomp weer teruggebring om Hom te kom dien. Hoekom?
Daarom is dit so belangrik dat ons diep kyk na die betekenis van hierdie stuk geskiedenis, want dit het ’n besondere aanspraak op ons.
Almal van ons kry hierdie tye wanneer dit vir jou lyk asof daar nou net nie meer een enkele ding oorgebly het wat nog reg is nie.
Amen

Slotgebed.

Slotpsalm 9:1, 7

Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 25 Januarie 2004 (oggend)