Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het. Geliefdes, genade en vrede vir u, van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees
Amen.
 
Psalm 116: 1, 10 

Gebed. 

Skrifberyming 10: 1, 2, 5, 6
 
Skriflesing: Handelinge 21
Teks: Handelinge 21: 13b & 14b

...want ek is bereid om nie alleen gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van Jesus Christus..

...laat die wil van die Here geskied...

Die kern van die preek is dit: Die Here stel ons soms voor die moeilikste besluite wat ons moet neem om sy Naam te verheerlik en sy kerk uit te bou! In die regte besluite wat ons neem, kom juis die krag van ons verlossing na vore!

Paulus het geweet dat dit sy roeping is om die Evangelie aan die heidene te gaan verkondig.
Hoofstuk 20 sluit af met Paulus se groet en vertrek van Milete af. Toe het hy vir die mense gesê dat hulle hom nie weer sal sien nie.
Maar let op na die eerste belangrike saak sover wat elke Christen raak.
Die gemeentetjie daar in Tirus is baie hartseer omdat Paulus van hulle af weggaan, en veral omdat hulle weet dat daar iets van pyn en onheil vir hom voorlê. Almal van hulle - mans, vrouens en kinders - gaan saam af strand toe.
Die betekenis van Paulus se roeping slaan hier al deur:
Dit is die tweede baie belangrke saak wat vir ons betekenis het uit hierdie gedeelte: In die kerk is daar eenheid. My lewe staan nie los van die kerk van die Here nie, en nie een van u se lewe staan los van die kerk van die Here nie: ons is almal tot 'n hegte eenheid verbind, en ons goeie en slegte werke het sy invloed op die hele gemeente en uiteindelik die kerk in sy volheid.
 
Paulus is van Tirus af weg en kom toe in Cesaréa aan. Hier gaan bly hulle by Filippus, wat een van die sewe was. Dit verwys na die sewe manne wat verkies was om die Griekssprekende Christenweduwees te versorg. Daar is baie verskil tussen die skrifverklaarders oor watter amp hierdie manne beklee het.

Waarskynlik was hulle ouderlinge. Een van ons vorige sinodes het ook 'n studierapport aanvaar waarin aangetoon word dat hierdie sewe manne se werk waarskynlik tydelik was, totdat die toestand opgehef was.
In elk geval, hier loop ons daardie selfde Filippus weer raak, en hy is die predikant van die gemeente - nie meer 'n diaken/ouderling nie.

Hier kom 'n groot gebeurtenis in ons gedagtes:
Weereens sien ons die beproewing waarvoor Paulus staan. Daar is voortdurend mense wat hom probeer keer, maar hy verstaan dat hy moet voortgaan en dat hy in die stryd moet ingaan ter wille van die Naam van die Here Jesus Christus. 

Agabus se profesie het egter een nuwe element wat tot nou toe nog nie na vore gekom het nie: Hy vertel dat dit die Jode is wat Paulus gaan vang en aan die heidene (Romeine) oorlewer.
 
Ons let nou op dat die mense se gesoebat dat Paulus nie moet gaan nie om al hierdie lyding vry te spring, hom begin vang.

Dit is asof hy baie naby aan die grens van sy uithoudingsvermoë kom as hy hulle verwyt dat hulle hom emosioneel maak.
Hy moet gaan, al moet hy gaan sterf vir die Naam van die Here Jesus Christus.

As ‘n geroepene wil staande bly, kan hy dit net doen as hy baie duidelikheid het oor sy roeping, en as hy hom in hierdie roeping tot die uiterste toe aan die wil van God onderwerp. 

Dit is ook ons teksvers:

Al word Paulus hoe ver gedryf, en deur watter onmoontlikhede ookal gedreig, hy moet voortgaan om te doen wat God wil.
Hy moet hom losmaak van ander mense se wil, en hy moet hom losmaak van sy eie wil, en dan moet hy hom aan God se wil onderwerp.

“Laat die wil van die Here geskied!” Ons is met hierdie woorde meteens in die tuin van Getsémané. 'n Baie donker aand. 'n Eensame man staan daar op sy knieë en bid: Jesus Christus. Hy weet dat Hy dieselfde nag gevang en geslaan gaan word. Hy weet dat Hy vals beskuldig gaan word en daarna gekruisig gaan word.
 
Hy bid dat die beker by Hom moet verbygaan as dit enigsins moontlik is.
Maar sy roeping is baie sterker as sy vrees vir wat voorlê, en Hy sluit sy gebed met die woorde dat nogtans nie sy wil nie, maar God se wil moet geskied.

Nou sê Paulus dieselfde woorde vir hierdie mense by hom. Waar kry hy dit vandaan? Christus is in hierdie saak die Voorbeeld en die Borg. Paulus moet in sy lyding die eise en die eer van God vooropstel. Dan sal hy deur die borgskap van Christus ook die krag kry om dit te kan doen.

Dit is 'n stukkie geskiedenis van 'n man (Paulus) wat hier neergeskryf staan. Maar die Heilige Gees het hierdie geskiedenis vir ons laat neerskryf om aan ons te toon hoe ook ons gebonde is aan die wil van God, en ook hoe ons gebonde en verbonde is om ons Christenskap uit te leef. 

Die jong susters wat vanaand hulle geloof gaan bely, moet veral let op dit wat die Here hier openbaar: Die Christelike Godsdiens openbaar hier sy krag:
Wat beteken dit vir ons almal (en ook vir julle!)?

Dit is om te kan besluit soos wat God wil.
Dit om dan selfs onder die grootste spanning, deur die krag van Christus gedra te word tot jy gedoen het wat God vra.
Dit vereis weer op sy beurt dat jy helderheid moet hê oor jou roeping.

Gehoorsaamheid aan God se wil is om werklik te kan lewe. As jy God se wil doen, dan vertoon jy die krag wat Jesus Christus vir jou aan die kruis verwerf het, en deur die werk van die Heilige Gees in jou gevestig het, en nog steeds vestig.

In 'n ander opsig is dit ook selfoorwinning. Dit is ook die toepassing van hierdie preek. Ons weet dat tye versleg in die opsig dat die eise van die ongelowige wêreld aan die gelowiges al hoe swaarder word.
Dit was hierdie besef wat Paulus tot "wêreldoorwinning" in sy sendingwerk gelei het. Laat hierdie selfde besef ons dra om God se eer ook in ons tyd met krag uit te dra, al eis dit dat ons ons lewe daarvoor moet aflê. Ons betaal enige prys, solank ons die wil van die Here laat geskied.
Amen.

Gebed.

Skrifberyming 14: 2

Aflegging van geloofsbelydenis.

Psalm 134:4.
 
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees, gaan met u almal
Amen.

Dr MJ du Plessis
21 Oktober 2001 (aanddiens)
Bellville

THOU ART THE POTTER - Anon?

Take me, this day, and make me, Lord,
As Thou wilt have me be -
Thou Art The Potter - I the humble clay -
Mould me and hold me ever closer to Thee.

If in mine earthly, moulded shape
Thine Eye should'st find a flaw -
Take, break me down, and mould anew,
A vessel cleansed, to love and serve Thee more. 

For in Thine Hands my form must be
Forever perfect, spotless, pure -
A vessel to Thy service, Lord,
To serve Thee humbly, ever more.