Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 8:3, 4, 5

Gebed

Psalm 28:3, 4, 5

Skriflesing:    Jakobus 2:14-26
Teks:            Jakobus 2:18; Kategismus Sondag 32

Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. (Jakobus 2:18 AFR53)

Daar is in die Christelike geloof twee uiterstes waarin jy maklik kan verval. Aan die een kant kan jy maklik dink dat die geloof alleen by God tel en dat jy dus nie aan die werke aandag hoef te gee nie. Of andersins kan jy dalk die gedagte hê dat jy ’n minder sterk geloof kan hê, en tog met jou werke in die hemel kan kom.

Altwee hierdie uiterstes is verkeerd. Kom ons gaan kyk na die beginsels wat die Bybel vir ons gee oor die verhouding tussen geloof en goeie werke:

1. Wat is die doel van Jesus Christus se goeie werke?
2. In ons lewens volg goeie werke op ware bekering.
3. Die Here sien ons goeie werke as heiligwording.

1. Wat is die doel van Jesus Christus se goeie werke?

As ons dus ons goeie werke wil verstaan en ook die werklike plek wat dit in ons geloof verdien, moet ons eerstens gaan kyk na Christus se goeie werke. Die doel van Christus se goeie werke was om ons te verlos.

Die saak van goeie werke is so belangrik dat ons daaraan in ons belydenis aandag gee.
Die volle waarheid in hierdie verband is dat ons met Sy bloed gekoop en vrygemaak is – dis waar – maar ons is ook deur die Gees van God tot Sy ewebeeld vernuut! Met ander woorde die Heilige Gees bring dit binne ons bereik om ook in ons goeie werke die Here Jesus Christus te kan volg.

Watter doel sou Jesus Christus nou hiermee hê?
Dit skets ook die verhouding tussen geloof en werke. Jesus het dit beklemtoon dat ’n goeie boom goeie vrugte dra.
In Johannes 15:8 stel Jesus dit duidelik dat God die Vader ook deur die feit dat ons vrugte dra, verheerlik word.  

As Christus dan met Sy lewe en Sy dood die Here verheerlik het en ook ons van ons sondes verlos het, moet ons dieselfde doen, want deur hierdie werke van Christus word ons hiervoor bekwaam gemaak.

Die werk van Christus het dus ten doel om God te verheerlik en daardeur ook ons naaste te stig en met hierdie diens aan God ook ons naaste vir Christus te wen.

Ons kan dus sê dat die doel drieledig is:
Vir hierdie doel glo ons en bewys ons ons geloof met ons goeie werke.

2. In ons lewens volg goeie werke op ware bekering.

Die regte geloof is ’n geloof wat gekombineer word met goeie werke.
As dit ons benadering tot ons geloof en ons goeie werke is, sal daar vanself ’n spontaanheid in ons harte ontstaan om ook so te lewe.
Goeie werke is om prakties te bewys dat jy God liefhet en nie om iets daarmee by God te probeer verdien nie. Dit is om heeltemal spontaan dinge te kan doen wat dien tot God se eer.

Dit is waarom Jakobus kan skryf dat iemand nie net moet sê dat hy glo nie. Die persoon moet vir hom sy geloof kom wys met sy werke.
Maar ’n gelowige se werke is nie net blindelings op God alleen toegespits nie. Nee, dit word so ingeklee dat dit alles raak waarby die Here belang het. Daarom raak jou goeie werke ook jou naaste.
In die regte verhouding met jou geloof is goeie werke ’n kragtige preek.
Al is goeie werke ’n genade wat van God ontvang word, is daar inderwaarheid ook ’n oordeelselement hieraan gekoppel.
Verder is dit ook so dat die pad van goeie werke uit die geloof na die hemel toe lei.
Nou word die mense hier onderskei in twee groepe. Die twee groepe loop in twee verskillende rigtings.
3. Die Here sien ons goeie werke as heiligwording.

Om goeie werke te doen is natuurlik dieselfde as heiligwording, want hoe meer goeie werke daar uit jou geloof voortkom, hoe heiliger lewe jy – met ander woorde, hoe heiliger word jy deur die genade van Christus.

Die ideaal sou natuurlik wees dat ’n mens in hierdie lewe al ’n volmaakte heiligheid kon bereik.
Goeie werke is ook voorbereiding vir jou hemelse lewe.
Dan moet elkeen van ons hierdie deel op onsself toepas:
Glo jy werklik?
Antwoord jy ja?
Waarom bewys ons werke dit dan nie altyd nie?!
Waarom is ons godsdienstige lewe nie altyd op die merk nie?

Onthou dat goeie werke net so deel is van ’n gelowige lewe as wat lig deel is van die son.
Dit is waarom die Here vir jou vra of jy werklik glo – en as jy dan sê dat jy werklik glo, dan sê Hy:
Toon My jou geloof uit jou werke!
 
Kom ons lees Kategismus Sondag 32 saam:

Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).
(a)Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

Vraag 87: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.

Kom ons lees ook Artikel 24 van die Nederlandse Geloofsbelydenis saam:

Ons heiligmaking en goeie werke
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot ’n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry.

Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir ’n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ’n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ’n geloof wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ’n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.
Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien?

Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filip 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: “. . . wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Amen.

Slotgebed

Slotpsalm 99:1, 2

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 Januarie 2004 (aand)