Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
 
Lofpsalm  47:1, 4.
 
Gebed.
 
Skrifberyming  5-2:6
 
Skriflesing:  Jesaja 53.

Teks:  Kategismus Sondag 16;  Jesaja 53 : 9

En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee;  en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie, en geen bedrog in sy mond gewees het nie.
 
Hier het ons smart en blydskap tegelyk, want hier het ons die dieptepunte van Christus se lyde op die aarde, maar ook reeds die deurbraak van sy heerlikheid.
In sy gees het Jesaja voor die kruis gestaan.
Ons verdeel hierdie preek in die volgende punte:
  1. Onskuldig veroordeel  -  daarom ryk begrawe!
  2. Daardie begrafnis openbaar ons eie toekoms!
1.  Onskuldig veroordeel  -  daarom ryk begrawe!
 
Eers kyk ons na die dood van Christus volgens die plan van sy vyande.  Jesaja skryf in vers 8 dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes.
Almal het ook gedink dat Hy saam met die rowers begrawe sou word.
Maar met Jesus was dit anders.  Die Jode was bang om Hom soos die moordenaars te laat begrawe, want die Joodse wet het geëis dat hulle dooies goed begrawe moes word.
Die dood van Jesus is egter in die hand van sy vyande.  Daarom moet die mense wat Jesus wil begrawe, eers sy liggaam gaan vra.  Sy liggaam was die eiendom van sy vyande.
 
By ons gelowiges is dood en begrafnis ‘n familiesaak.  Die dooie behoort aan sy mense en hulle begrawe hom.
Maar God laat ook nie die kwaad onbeperk toe nie.  Daarom verydel God die res van die duiwel se werk.
‘n Man van aansien onder die mense van Jerusalem gaan na Pilatus toe.  Josef van Arimathea.
Dit wat Jesus in hulle harte gesaai het met sy prediking, dit dra nou vrug.  Die rykman oorkom sy vrees, want Jesus se dood het sy hart verander.
Die gebeurtenis simboliseer dat die oue verbygegaan het en dat alles nuut geword het – soos die begrafnis en die graf van die Seun van God.
Die kruisiging was nog deel van Jesus Christus se lyde, maar sy begrafnis nie meer nie.
Maar God preek die waarheid.
2. Daardie begrafnis openbaar ons eie toekoms!
 
In die begrafnis is ook die werk van Christus vervat:
Die begrafnis van Jesus Christus was ook na die behoefte van sy volk.
In die tuin van Josef van Arimathea was alles vol lewe – alles behalwe die liggaam in die nuwe graf.
So moet dit met ons ook wees.
Die begrafnis van Jesus Christus preek aan ons dat dit is hoe ver ons sondes Hom gedryf het – tot in die graf!  Maar dit preek ook aan ons lewe!
In die begrafnis van Jesus Christus sien ons dat Hy nie vernietig is toe Hy ons skuld gedra het nie.
Die preek is saamgevat in Kategismus Sondag 16:

Vraag 40:  Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord:  Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a)Gen 2:17.  (b) Rom 8:3, 4;  Heb 2:14, 15.
 
Vraag 41:  Waarom is Hy begrawe?
Antwoord:  Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).

(a)Hand 13:29;  Matt 27:59, 60;  Luk 23:53;  Joh 19:38.

Vraag 42:  As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord:  Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).

(a)Mark 8:37;  Ps 49:8.  (b) Fil 1:23;  Joh 5:24;  Rom 7:24.
 
Vraag 43:  Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord:  Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a).  Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).

(a)Rom 6:6.  (b) Rom 6:6, 12.  (c) Rom 12:1.
 
Vraag 44:  Waarom volg daar:  en neergedaal het na die hel?
Antwoord:  Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a).  Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.

(a)Jes 53:5.  (b) Ps 18:5, 6;  116:3;  Matt 26:38;  27:46 Heb 5:7

Amen.

Slotgebed.
 
Slotpsalm 49:5
 
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
 
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 17 Oktober 2004 (aand)