Sing vooraf: Psalm 146:1, 8 (700)

Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 9:1, 10 (36)
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld met Psalm 38:1, 17 (189)
Wet
Psalm 38:1, 17 (189)
Gebed
Psalm 116:1, 7 (569)
Skriflesing:     Job 8 en Romeine 8:20-39
Teks:               Job 8:13-15; Kategismus Sondag 24

So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose; sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ’n spinnerak. Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie. (Job 8:13-15 AFR53)

Die regverdige is ’n soort mens wat verwagtings het wat buite die fisiese wêreld uitgaan.
Die ongelowige het ook sy manier van hoop – maar dit verskil heeltemal van die gelowige s’n.
So sal dit met alle mense gaan wat nie op die borggeregtigheid van die Here Jesus Christus hoop nie. Die Here self sê dit baie sterk:

Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?   (Romeine 8:32 AFR53)

Kom ons kyk na die sonde van eiegeregtigheid van drie verskillende kante af:
1.      Eiegeregtigheid oorskat die mens se goeie werke.
2.      Eiegeregtigheid hoop vrugteloos op enige verdienste.
3.      Eiegeregtigheid maak mense sorgeloos en goddeloos.

1.      Eiegeregtigheid oorskat die mens se goeie werke.

Eiegeregtigheid het ’n baie naby familielid wat help om groot moeilikheid te maak in die mense se lewens waar dit toeslaan. Die naam daarvan is verwaandheid.
Dis die punt wat ’n mens bereik wat dink dat hy met sy goeie werke iets verdien.
Die waarheid is dat na die sondeval selfs ons heel beste werke nog steeds kragteloos is om enige vorm van saligheid in die hiernamaals te verdien.

Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; (Romeine 4:4 AFR53)

Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. (Romeine 6:23 AFR53)

’n Goeie werk by die Here kan net slaag as dit volmaak is.
’n Eiegeregtige mens se oordeel oor die waarheid laat hom in die steek. Daar was maar altyd mense wat gedink het dat hulle geloof en hulle manier van doen wonderlik was – en dan was dit nie! Die Here waarsku teen hulle:

Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit! (Jeremia 7:4 AFR53)

Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. (Romeine 10:3 AFR53)

Die groot ellende is dat die Here sulke mense verstoot! Hy hou niks van mense wat wonderlik in hulle eie oë is nie! Hulle hoop om eendag salig te wees is dus heeltemal leeg en inhoudloos:

Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. (Galasiërs 5:4 AFR53)

Die pad hemel toe loop deur totale selfverloëning. Ons moet onsself heeltemal aflê en in die Here Jesus Christus opgaan. Dan kan ons gered word.
Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. (Romeine 5:19 AFR53)

Hy skryf ook onder die leiding van die Heilige Gees dat hierdie redding juis glad nie van ons kant af gebeur nie.
. . . en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. (Romeine 3:24 AFR53)

Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. (Romeine 3:28 AFR53)

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (Efesiërs 2:8-9 AFR53)

2.      Eiegeregtigheid hoop vrugteloos op enige verdienste.

Die Bybel leer ’n hele paar plekke dat die Here ons wil beloon vir wat ons doen. Soms lyk dit asof die werke wat ons hier doen, tog iets beteken, en daarom betaal die Here ons in verhouding daarmee. Kyk na gedeeltes soos:

Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het. (Matteus 5:12 AFR53)

Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen. (Lukas 6:23 AFR53)

Maar die oomblik wanneer ons meer dinge lees wat die Here oor die loon leer, kom ons agter dat die loon wat Hy ons gee nie in die eerste plek gegrond word op ons werke nie.
Ons werke verwerf inderdaad loon – maar nie die soort van loon wat ons graag wil hoor of hê nie! Daarom gee die Here vir ons die loon van Iemand Anders se werke.

Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. (Romeine 6:23 AFR53)

Die Here Jesus soek nie volgens stand of rykdom of aansien in hierdie lewe uit wie Hy verlos nie. Hy verlos die wat Hy liefhet.

. . . omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ’n slaaf is of ’n vryman. (Efesiërs 6:8 AFR53)

Die woord loon is ook aan tyd vasgemaak. Nogal ’n tyd wat al korter word, naamlik hierdie lewe wat verbygaan en die ewige lewe inlui:

En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. (Openbaring 22:12 AFR53)

Terwyl ons nou al klaar uit die Bybel gehoor het dat die enigste betaling/beloning vir sonde wat ons gedoen het, die dood is, waar kom die loon dan vandaan wat die Here vir ons wat glo, gaan gee?

Die antwoord is baie eenvoudig, maar soms myle ver van ons af.
En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. (Johannes 6:40 AFR53)

Die loon van die Here is dus ’n belofte wat vir die lewe en die lewe na hierdie een geld.
Die loon wat die Here ons gee, is dus suiwer ’n genadeloon. Dit is iets wat ons kry sonder dat ons enige bydrae daarvoor gemaak het.

Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, (Efesiërs 1:3 AFR53)

o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! (Jesaja 55:1 AFR53)

Dit is beloning sonder enige grense. Dis ’n beloning waarvan ons die inhoud nie regtig eers kan verstaan nie, want die Here gee vir ons alles wat die Here Jesus Christus het!

Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? (Romeine 8:32 AFR53)

3.      Eiegeregtigheid maak mense sorgeloos en goddeloos.

In die apostel Paulus se tyd al het die mense vir die Christene gesê dat so ’n leer, naamlik dat die Here jou voluit red en dat jou eie werke nie bydra tot jou saligheid nie, sorgelose mense maak.
Paulus verwys daarna:

En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig. (Romeine 3:8 AFR53)

’n Ware gelowige se lewe bewys die teendeel.
Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet. (Romeine 3:31 AFR53)

Die Here Jesus gee die reël van hoe mens verlos word in Johannes 15:

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (Johannes 15:5 AFR53)

Die ware gelowige doen alles in die Here Jesus.
’n Ware gelowige is iemand wat ’n duursame verhouding met die Here Jesus Christus het.
Die Heilige Gees beskryf hoe dit in die ware gelowige se verlossing werk:

Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. (Romeine 6:1-7 AFR53)

Die eiegeregtige mens daarteenoor is iemand wat in so ’n mate op homself staatmaak dat hy in ’n valse gerustheid vasval.
Wat glo ons? Ons glo dat die genade van die Here Jesus vir ons genoeg is. Ons misbruik nie die Here se genade om sorgeloos te wees of te word nie. Ons is presies die teenoorgestelde as die mens wat in ons teksvers beskryf word:
Kom ons lees wat ons belydenis van hierdie dinge sê in Kategismus Sondag 24:

Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a) Gal 3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.

Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).
(a) Luk 17:10.

Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie (a).
(a) Matt 7:18; Joh 15:5.

Amen.

Slotgebed
Slotpsalm 84:6 (425)

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 28 Mei 2006 Kamppreek (oggend)