Gereformeerde Kerk Bellville
27 April 2003 (aand)
Ds. Reinder Kingma

Lees: Lukas 1:5-25; 24:50-53

Teks: Lukas 1:8-11,22;  24:50b

Tema: Leef met blydskap as geseëndes van die Here!

Sang:    Ps. 31:5,15,17;  Ps. 33:11;  Ps. 72:3,10;  Ps. 134:1-4

Geliefdes in die Here

'n Manstudent het eenmaal vir my gesê dat om een erediens te mis, vir hom fataal is.  Toe ek hom 'n bietjie verder hieroor uitvra was sy woorde: ek mis mos dan die seën van die Here!  Hoe kan ek daarsonder wil lewe?!

In hierdie paar woorde het hierdie jongman iets verwoord van die enorme troos wat gelowiges put uit die seën in die erediens.

Om ons iets meer van hierdie genade te laat begryp het ons twee tempelberigte uit Lukas gelees.  Die een reg aan die begin en die ander aan die einde van die Evangelie.  Twee gedeeltes wat eintlik die hele Evangelie van Lukas omraam en daarom 'n baie pertinente boodskap het.

1.    Seën wat nie kan deurkom nie
Lukas 1 is die verhaal van God se seën wat nie kan deurkom nie.  Wat het hier gebeur?

Vir 400 jaar het God tot met die gebeurtenis van Lukas 1, teenoor sy volk geswyg.  Daar was openbaringstilte: geen engele, geen profete meer,  nie meer gesigte en drome nie.  Dit was doodstil.

Toe Hy na hierdie 400 jaar egter besluit om weer met sy volk te praat stuur Hy Gabriël eerstens na die plek van gebed, na die reukofferaltaar in die tempel.  Hy begin ook weer praat op die die uur van gebed.  Die volk was juis toe in gebed buite die tempel en die priester Sagaria besig met die gebedsoffer in die tempel.  Sy eerste woorde rig God dan ook aan die man van gebed, Sagaria.  O, hy en sy vrou het die Here so innig om 'n kindjie gesmeek. Dit was vir hulle 'n ernstige gebedsaak omdat kinderloosheid destyds gesien is as 'n breuk in die lyn waaruit die Messis gebore sou word.

Toe God vir Sagaria sê dat daar 'n kindjie vir hom en Elizabet gebore sou word, ja dat die tyd van die heerlikste en grootste gebedsverhoring op hande is, toe glo hierdie priester dit nie.  Toe God sy gebed onthou, vergeet hy van God se almag om lewe te wek uit die verdorwe moederskoot van Elizabet.  Die wonder van God se genade is te goed om waar te wees.  Hier is 'n tipiese trek van die sondaar: as God se genadewoord nie klop met jou logika nie, gaan dit maar swaar om gelowig te wees.  Oor sy ongeloof is Sagaria tydelik met stomheid geslaan.

En nou moet u u dit indink!  Sagaria was daardie dag die priester wat die voorreg van 'n leeftyd sou hê:  Dit was hom beskore om die priesterlike seën van Numeri 6 op die volk te lê.  "Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee" (Num. 6:24-26).  Toe hy egter uit die tempel kom om die volk te seën, staan hy stom voor hulle.  Geen seën het na die volk deurgekom nie.  Die erediens was onvoltooid.  Die volk moes ongeseën huistoe gaan.

Dit is wat ongeloof doen: God se seën kan nie deurkom nie.  Daardie dag was 'n stom Sagaria 'n magtige noodkreet na díe Priester, na díe Liturg, na díe bedienaar van God se seën.  Iemand wat God se seën tot ons kan laat deurkom.  Is daar so iemand?

2.    Geseën deur Jesus Christus
Die antwoord kry ons 23 hoofstukke later in die Lukas Evangelie.  Terwyl Hy opvaar na die hemel hef Jesus sy hande op en seën sy dissipels.  Ja al seënend is Hy opgeneem.  God se seën kom weer deur na sy volk.  Die onvoltooide word voltooi en die dissipels is die hele tyd by die tempel om God te prys en te dank.  Met die hemelvaart van Jesus gaan die hemele oop en drup God se seën op sy kinders.

Hoe is dit moontlik?  Dit alles gebeur omdat – en dis die groot omdat – omdat daar tussen die twee tempelberigte díe plek van gebed, díe uur van gebed, en díe Man van gebed is.  Getsemane en Golgotha met sy plek en uur en Man van gebed.  Jesus Christus ons Here.

Daar het Hy aan sy eie Persoon beleef wat dit beteken as God se seën nie deurgaan nie.  God se toorn oor ons ongeloof in sy beloftes het op Hom neergebrand.  Hy moes betaal vir 'n gebroke en gestolde priesterdiens wat die mens nie werklik by God en sy diens kon uitbring nie.  As ons Hoëpriester het Hy hierdie offer gebring sodat Hy ons kan laat leef en werk onder die ryke seën van die Here.  Hiervan getuig sy uitgestrekte seënende hande toe Hy opgevaar het na die hemel.

Christus het sy seën nog nooit teruggeneem nie.  Dit drup nog daagliks van sy hoëpriesterlike hande op elkeen wat glo – op elkeen wat leef uit God se belofes.

3.    Leef dan nou met blydskap voor God!
Wat 'n ryke betekenis kry ons eredienste nie nou nie.  Kan 'n mens nou nog vra: Waarom moet ek kerk toe gaan?  Waarom elke keer  – oggend en aand - as God sy kinders bymekaar roep?  Dit is dan die plek waar die seën van die Here Jesus Christus op sy volk gelê word.

Sal ek die seën van die Here ooit in my lewe wil ontbeer? U onthou die opmerking van van die jong manstudent!  Nee nooit!!  Daarsonder is ons lewe brandarm, my liewe broeders en susters.  Daarsonder is ons lewe leeg en deurmekaar.

Nee, 'n kind van God gaan die seën van die Here met blydskap soek.  Hy gaan kyk as die seën uitgespreek word en dit indrink, Hy gaan God se seënende hande sien en weet dit is vir hom bedoel.  Hy gaan daaronder jubel en bly wees.

So geliefdes, word die seën vir 'n gelowige 'n uitkykpunt vanwaar ek hoog en ver en diep sien, vanwaar ek terug kyk en vorentoe kyk en boontoe kyk.
Kan u sonder die seën van die Here lewe?

Amen