Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 110:1, 2.

Gebed.

Psalm  68:8. 

Skriflesing:  Lukas 12

Teks:  Kategismus Sondag  22.  Lukas 12: 32 

Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.

Hoe meet ons die lewe:
Is dit nie dalk waarom die Here die dissipels daarop wys dat die lewe meer is as voedsel en die liggaam meer as klere nie. Hy wys hulle op die plek wat die mens in God se genade inneem. Kraaie saai en oes nie en hulle maak ook nie bymekaar nie. Ons is baie meer werd as kraaie, en daarom sal die Here meer vir ons sorg ook. 

Wat nie hier geskryf staan nie, maar wat baie sterk in die Here se bedoeling uitkom, is die verwagting wat die Here van ons het:
Julle moenie soek wat julle sal eet of drink nie ... Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Dit beteken eenvoudig dat dit gaan oor ons toekomsbeplanning. Enige een van ons kan vandag geroep word om die grense van die doderyk oor te steek. Dan moet ons lewe die tekens dra van ware kennis en aanbidding van die Drie-Enige God, sodat ons in sy ewige koninkryk kan ingaan.
 
Kom ons gee in hierdie preek aandag aan die volgende sake:

1. Is die dood vir ons ‘n toekomsbedreiger?
2. Wat gebeur as ons sterf?
3. Die Here Jesus se toekoms vir ons.

1. Bedreig die dood ons toekoms?
 
Ons verstaan baie keer nie alles wat die Here doen, goed nie, en dan veroorsaak dit dat ons verskeurd leef:
In oomblikke wanneer die duiwel ons mense aanval, wonder ons of die heidene nie dalk reg kan wees dat ons net sommer in die donker gaan wegraak as ons sterf nie. Dit is niks anders as vrees vir die dood wat mens sulke dinge laat dink nie. En tog is die snaakste ding dit dat ons nie regtig bang is om in God se oordeel te beland nie  ‑  want as ons bang was, so ons oor baie van die lelike dinge wat ons doen, twee keer gedink het.
 
Die ander deel van ons verskeurdheid lê daarin dat die sonde ons al so verinneweer het dat ons baie moeilik die lewe anderkant die dood kan sien.
Die Bybel leer ons dat die dood 'n bepaalde betekenis het.
Om die waarheid hiervan te bewys, is daar enkele dooies uit die dood opgewek, soos bv. Lasarus, of die mense wat die dag van die kruisiging uit hulle graftes opgestaan het. Hierdie opwekkings uit die dood het almal geleer dat die dood ons nie van Jesus Christus af kan wegneem nie, want Hy het mag om die doodse houvas op ons tot niet te maak. 

Jesus se dood was iets anders:
2. Wat gebeur as ons sterf?
 
Die dood is verskriklik, want op daardie oomblik word die mens se liggaam en siel uitmekaargeskeur. Om dit te kan verstaan, moet ons teruggaan na die skepping van die mens toe en gaan kyk hoe God die mens geskape het.
Toe kom die sondeval. En saam met die sondeval die doodstraf.
Wat met die liggaam gebeur, is maklik om te sien en te verstaan.
Ons siel het solank die aarde se geskiedenis nog voortgaan, 'n ander bestemming as die liggaam.
Paulus skryf dieselfde aan die Filippense‑gemeente (1: 21). Hy sê dat hy verlang om heen te gaan, want dan is hy by Christus. Uit hierdie gedeeltes leer ons dat ons siele dadelik tot Christus ons Here geneem word wanneer ons sterf.
 
'n Ander belangrike saak waaraan ons moet aandag gee, is dat daar mense is wat dink dat die liggaam iets laers of slegters is as die siel.
Mens hoor nogal dat mense van iemand wat gesterf het se liggaam praat as die "stoflike oorskot." Dit is verkeerd om so te praat, want ons liggame is nie weggooi materiaal nie. "Oorskot" beteken "oorskiet"  ‑  en die liggaam is geen oorskiet nie. Die liggaam word net deur die Here bestem om op 'n ander manier die tyd tot by die wederkoms af te wag.

Dan kom die einde van die tyd. Die laaste oordeel vind plaas. Die Here gee die bevel dat die dooies opstaan: die see gee sy dooies en die land gee sy dooies.
Hoe 'n verheerlikte liggaam lyk, weet nie een van ons nie, maar dit sal die hoogste graad van volmaaktheid besit.
3. Die Here Jesus se Toekoms vir ons.
 
Ons ken op hierdie aarde reeds vreugde. Almal van ons is al deur oomblikke van groot vreugde. Maar dit is maar 'n baie klein beginsel  van die voortdurende blydskap wat ons in die hemel sal ervaar, want selfs ons beste oomblikke hier dra nog die letsels van die sonde  ‑  en daar is dit anders.
Nou moet u net nie onder die indruk wees dat ons daar gaan leeglê nie, want dit gaan 'n lewe wees waar ons gaan hard werk. Maar ons sal alles wat ons doen, met vreugde en blydskap doen.
Al hierdie vooruitsigte steun op die krag van Jesus Christus, want deur sy krag sal ons liggame weer opstaan.
Nou moet u tot versterking van u geloof aan die volgende dink: As Jesus, terwyl Hy God is, Homself uit die dood kon terugbring in die lewe, hoeveel meer sal Hy ons nie ook kan opwek tot die ewige lewe nie, veral gesien die feit dat Hyself die dood al reeds oorwin het.

Baie keer dan dink ons ons lewe het geen sin of doel nie. Maar as u so na hierdie dinge kyk, dan moet u besef dat ons lewe tog rigting het, en dat Jesus daarmee beweeg na die wederopstanding uit die dood, wanneer Hy weer kom.

Die saak onderstreep ons verantwoordelikheid:
Positief gestel:
Geliefdes, stel dus al u verwagtinge in Christus, en lewe so dat ons in Christus sal sterwe.

Kom ons lees Kategismus Sondag 22 saam.

Amen.

Slotgebed.

Slotpsalm 104: 1, 20, 21. 

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
29 Oktober 2001 (aanddiens)
Bellville