Ons verhouding met die Woord van God bepaal ons bestemming

Skriflesing: Lukas 16: 14-31
Teks: Lukas 16:27-31

Sing: Ps.92: 1,2 19:4 98:6,7 119:38,39

Vroeër jare het daar by sommige gelowiges 'n afdruk van 'n sekere skildery in hulle woning gehang. Op die skildery is twee paaie uitgebeeld: 'n smal pad en 'n breë pad. Die smal pad het gelei na die hemel en die breë pad na die hel. Daar was baie mense op die breë pad, maar op die smal pad was daar maar min. Die breë pad was 'n pad vol genot en plesier, maar die smal pad was 'n moeilike pad.

Hierdie skildery kan dan ook tot 'n sekere mate vergelyk word met die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Lasarus verteenwoordig die mense op die smal pad na die hemel, en die ryk man weer die mense op die breë pad na die hel.

Die gelykenis wat Jesus vertel het, handel natuurlik oor elke mens se lewe hier op aarde terwyl hy op pad is na sy eindbestemming. En daar is net een van twee plekke waar jy gaan uitkom: die hemel of die hel!
Maar ons eindbestemming is nie die kerngedagte wat die Here in hierdie gelykenis wil beklemtoon nie. Wat Hy wel hier beklemtoon, is dit wat vir ons as mense hier op aarde belangrik is sodat ons noual sal weet wat ons eindbestemming gaan wees: die hemel of die hel.

Vooraf moet ons egter sê dat Lasarus se eindbestemming nie die hemel was omdat hy 'n arme ellendige bedelaar was nie.

Net so was die ryk man se rykdom ook nie die rede waarom hy in die hel beland het nie.

Abraham was ook 'n ryk man, en Isak en Jakob en Dawid ook. Tog was hulle eindbestemming ten spyte van hulle rykdom diehulle sg. ywerig besig met die Woord van God, het hulle nooit by die God van die Woord uit gekom nie. Hulle was eerder godjies in hulle eie oë.

In die gelykenis vergelyk Jesus hulle lewenswandel met die van die ryk man. Hy was ryk, en dit was op sigself nie sondig of verkeerd nie. Dit was ook nie 'n sonde om mooi klere te dra nie. Hy het nie nodig gehad om in die vodde van die bedelaar te loop nie. Sy rykdom en besittings het hy immers van die Here ontvang.

Sy groot sonde was egter dat hy sy rykdom net tot sy eie voordeel en plesier gebruik het. Hy het hom nie gesteur aan die opdragte van die Here in Sy Woord nie. Hy het al die gawes wat hy van die Here ontvang het nie tot diens van God en tot die voordeel en nut van die ander mense soos Lasarus gebruik nie. Hy wou nie aanvaar dat sy baie besittings aan God behoort het om dit volgens die wil van God te bestuur nie. Hierdie man het dus nie rekening gehou met God en sy Woord nie, soos dit blyk uit ons teksverse. Vir hom het dit net gegaan om sy eie eer net soos vir die Fariseërs.

As hy vandag sou lewe, kan ons van hom sê dat hy wel 'n lidmaat van 'n kerk is. Hy het 'n Bybel in sy huis. Hy gaan af en toe kerk toe en hy gebruik ook die nagmaal. Maar hy steur hom nie aan die opdragte en waarskuwings van die Here nie. Hy lees en luister miskien na die Woord en Woordverkondiging, maar hy ontmoet nie die Here in die Woord nie. Hy lewe soos hy wil en nie soos God wil nie.

Dit blyk duidelik uit die ryk man se reaksie toe Abraham vir hom gesê het dat sy 5 broers die Wet en die profete het. Hulle moet daarna luister want dit is die Woord van God. En hulle moet gelowig op so 'n wyse daarna luister om die Here self daarin te hoor. En dan moet hulle dit wat die Here deur Sy Woord verkondig gelowig aanneem.

En hulle moet hulle deur die Woord laat lei. Dan sal hulle ook gehoorsaam elke dag met die Here lewe en op Hom alleen vertrou. Sy 5 broers het dus nie 'n probleem nie. Hulle gaan nie ongewaarsku hulle eindbestemming tegemoed nie. Al wat hulle moet doen is om in verbondenheid met die Woord van God te lewe waardeur Hy hulle onderrig en waarsku sodat hulle hulle tot God kan bekeer.

Die ryk man se versoek aan Abraham om Lasarus te stuur om sy broers te waarsku, kom dus daarop neer dat hy indirek die Here beskuldig. Die Here het Sy broers nie vooraf en genoeg gewaarsku nie. Die Woord is onvoldoende. So wil hy homself ook verontskuldig. As hy vooraf gewaarsku was, sou hy nie in die hel beland het nie.

Maar Abraham se antwoord op sy versoek weerlê al die beskuldigings. Die Woord is kragtig en daartoe instaat om sondaars tot bekering te bring. As mense net maar wil luister en ag gee op wat God deur Sy Woord en Gees tot ons spreek. Dit is soos Paulus in Romeine 1:16 sê.
"Die Evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo."

In Romeine 10: 14,17 beklemtoon hy ook hoe belangrik ons verhouding tot die Woordverkondiging moet wees. Hy sê;
"Hoe kan 'n mens God aanroep as jy nie in Hom glo nie. En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie. En hoe kan 'n mens van Hom hoor sonder iemand wat preek."

Die gevolg is dan: Die geloof in God kom dus van die prediking wat 'n mens hoor. En die prediking wat ons hoor is die verkondiging van Jesus Christus.

Niks kan die plek van die Woord vervang om ons tot geloof en gehoorsaamheid tot God te bring nie.

Maar die ryk man was nie hiermee tevrede nie. Die heilige Skrif alleen is nie voldoende nie. Daar moet nog iets bykom, iets buitengewoons en iets sensasioneel. As iemand uit die dood sou opstaan en hulle sou waarsku, dan sal hulle luister. Hy weier dus om te erken dat die Woord van God 'n krag is tot redding vir elkeen wat glo. En daarom is sy gevolgtrekking : As sy broers dan in dieselfde plek van ellende beland waar hy is, dan lê die skuld by die Here en Sy Woord.

Maar Abraham verwerp hierdie beskuldigings geheel en al: As hulle na die Woord van God nie luister nie; as hulle nie gelowig gehoor gee, en hulle op grond van die Woord bekeer nie; as hulle nie vra na die wil van God om te doen wat vir Hom aanneemlik is nie, sal selfs iemand wat uit die dood opstaan hulle nie kan oortuig nie.

Die Woord van God, die blye boodskap van verlossing en redding deur Jesus Christus is die enigste weg tot saligheid vir elkeen wat deur die Woord tot geloof kom. Jesus Christus, self die Woord, het die Woord ook aan die Fariseërs verkondig. Hulle wou nie luister nie. Inteendeel: hulle het Hom verag. Daar staan is vers 14 : "Hulle het Hom beledigend uitgelag". Letterlik staan daar: hulle het hulle neuse vir Hom opgetrek, wat teken is van hulle minagting vir Hom en die Woord wat Hy verkondig het. Op die ou end het hulle daarop aangedring dat Hy gekruisig moet word, terwyl hulle nie besef het dat dit die lydensweg was wat Jesus moes gaan sodat sondaars gered kon word nie.

Maar Hy het uit die dood opgestaan. In Jesus se opstanding word bevestig wat Abraham ook aan die ryk man gesê het. Die boodskap dat Jesus uit die dood opgeslaan het, is deur die Romeinse wag wat die graf moes bewaak aan die Joodse Raad oorgedra. Daarna het die apostels die evangelie van die opgestane Christus aan hulle verkondig. Ons verwys na Handelinge 2 met die uitstorting van die Heilige Gees. Nogtans, nieteenstaande Jesus se opstanding uit die dood, het hulle die prediking nie aangeneem nie. Daarom is hulle bestemming die ewige verderf.

Broeders en susters, ons verhouding tot die Woord van God, ons betrokkenheid by Sy Woord, bepaal wat ons bestemming sal wees: hemel of hel.

Ons belewe tans tye waarin die Woord van God nie meer as die volle waarheid aanvaar word nie.

Die neiging is vandag dat die Woord van God by die behoeftes en sienswyse van die mens moet aanpas, en nie meer dat die mens hom volkome aan die gesag van God se Woord sal onderwerp nie. Daarom word Goddelike uitsprake wat nie meer by ons tyd en omstandighede inpas nie, op 'n subtiele manier gewysig. As 'n uitspraak of opdrag van God in Sy Woord nie meer vir ons aanvaarbaar is nie, dan sê sommige teoloë: nee, maar daardie opdrag van die Here is eintlik maar net 'n tydsgebonde opdrag. Dit was maar net bedoel vir die mense van Paulus-hulle se tyd. Ons lewe in ander tye en omstandighede. Daarom moet ons daardie opdragte nie meer sien as van toepassing op ons nie. En soos die Fariseërs die Wet van God verskraal het tot mensgemaakte wette, so word die Woord van God in ons tyd al meer en meer kragteloos gemaak om die mens te pas. Baie sê byvoorbeeld dat nie alles wat in die Bybel staan die die Woord van God is nie.

Mense wil ook nie meer kerktoe kom om na die Woord te luister nie. Daarom moet die prediking plek maak vir allerande sensasies en konserte om mense weer na die kerk te lok.

Maar so sê Jesus in hierdie gelykenis: As hulle na die Woord van God nie luister nie ; as hulle nie deur die Woord getrek word nie, sal niks anders, selfs iemand wat uit die dood opgestaan het en met mense tydens die erediens te kom praat, hulle oortuig of tot bekering bring nie. Die Woord van God alleen wys ons op die ware weg van verlossing en dit is die weg van Jesus Christus. En die Heilige Gees alleen oortuig ons deur die Woord van die Waarheid.

Daarom moet ons verhouding tot die Woord wees wat die verhouding van Lasarus in die gelykenis was. Jesus sê wel niks van Lasarus in sy verhouding tot die Woord van God nie. Al wat ons van Hom hoor is dat hy 'n arme ellendige bedelaar was, siek en vol swere. En die mense het hom maar net daar by die poort van die ryk man se paleis gaan neerlê. Daar het hy dag na dag gelê met die hoop om tog ietsie uit die oorskiet van die ryk man se tafel te kry. Daar het hy ook gesterf en is in die hemel opgeneem.

Tog sê Jesus iets besonder oor hom. Hy gee aan hierdie arme ellendige bedelaar 'n naam nl. Lasarus. Die Hebreeuse vorm van hierdie naam is Eleaser. En dit beteken: "God is my hulp".En dit sê vir ons alles van hierdie bedelaar. Hy het hom volkome op die Here verlaat en aan Sy Woord vasgehou. Vir hom was die Woord van God die lig op sy pad na die ewige heerlikheid in die hemel by die Here.

Salig is hulle wat weet hoe arm hulle voor God is en daarom volkome afhanklik van Hom is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Saligsprekinge uit Matt.5:3). Mense wat in hierdie goddelose wêreld werklik van die Here afhanklik is, soek hulle troos en krag in Sy Woord. Mense wat in hierdie leuenagtige wêreld soekers is na die waarheid, vind die waarheid in Sy Woord.

Mense wat smag na God se daaglikse teenwoordigheid, ontmoed hom in Sy Woord, vol liefde en genade en barmhartigheid .

Mense wat op hierdie wyse met die Woord besig is, lewe elke dag in verbondenheid met die Here. Deur Sy Woord lewe ons ook in geloofsgemeenskap met mekaar om mekaar in 'n godonterende wêreld in die geloof te bemoedig en te versterk. Deur Sy Woord en Gees is ons ook weergebore tot 'n nuwe lewe om kinders van God te wees.

Deur sy Woord stort die Heilige Gees al die weldade wat Christus vir ons verwerf het,in ons lewens sodat ons ook soos kinders van God wil lewe.

Deur Sy Woord kom ons tot die werklike eenheid in geloof en in ons kennis van die Seun van God.

Deur Sy Woord en Gees is ons seker van ons eindbestemming.

Daarom, sal ons ook soos Paulus sê: Om Christus Jesus , my Here, te ken, oortref alles in waarde. Daarvoor span ek my ook in.

Daarom, broeders en susters, neem die Woord en Woordverkondiging so 'n besonder plek in ons eredienste in. Niks anders kan die plek van die Woord inneem nie, selfs nie iemand wat uit die dood sou opstaan nie.

En ons kom dan met verlange na en oorgawe aan God om - soos dit in die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaringe 2 en 3 staan - te luister wat die Gees vir die gemeente sê. Nie maar net te hoor nie, maar om te luister en dan gewillig en gehoorsaam die Woord aan te neem wat die Here aan ons opdra.

Ons verhouding tot die Woord van die Here bepaal noual wat ons eindbestemming sal wees. Die hemel of die hel.

AMEN

Ds. H.P.Prinsloo (Bellville).
7 April 2002. Oggenddiens