Christus kom weer! Verwag ons Hom? En hoe?

Lees: Lukas 17:20 -18:8

Teks: Lukas 18:6-8

Sing Ps 100:1,3            86:6             Skb. 33:2,3       Skb.43:5,6

Broeders en Susters, daar vind deesdae so baie ontstellende dinge plaas dat ons nie eens meer aan die toekoms kan dink nie. Ons sien nie juis lig in die tonnel nie.

Nou praat ons nie net van  moord en roof en kapings en verkragtings wat daaglikse gebeur nie, of van stygende  lewenskostes en petrol wat onbetaalbaar duur word nie. Dit ook, ja. Maar dit wat ons veral onrustig maak, lê op die pad van ons christelike geloofslewe.

Dit ontstel ‘n mens grenseloos om te hoor en te lees hoe sommige teoloë daarop uit is om die Woord van die Here heeltemal kragteloos te maak. Die Woord is mos nie meer volgens hulle die onweerlegbare,  onfeilbare, onveranderlike en volkome Woord van God nie. Hulle beweer selfs dat die Here magteloos staan teenoor die mens.

En dan is alle media tot hulle beskikking gestel om hulle valse leerstellinge te verkondig: die radio, die TV, koerante en selfs kerklike tydskrifte.

Die ergste is dat hulle al talle mense - gelowiges - verwar  en met hulle saamsleep op die dwaalweg. En hulle werk met ywer en spoed.

En dit ontstel ‘n mens. Hoe gaan ons as kerk bly voortbestaan teen hierdie verwoede aanslae? Dan word ‘n mens later moedeloos, want dit lyk of dit vorentoe al donkerder word.

En dit is presies wat die duiwel wil hê. Ons moet nie meer ‘n toekomsverwagting hê nie; ‘n verwagting op die wederkoms van die Here nie. Trouens dit is mos wat  dié selfvoldane  teoloë wat hulleself christene noem, ook verkondig: “Jesus het nie uit die dood opgestaan nie!  Daarom sal daar ook nie ’n wederkoms plaasvind nie.”

Maar nou kom Jesus in hierdie gedeelte wat ons gelees het en Hy verseker ons dat Hy weer sal kom.

Hy gaan nog verder. Hy wil nie hê dat ons ons so moet ontstel  oor dinge wat ons vandag belewe nie. Die dinge moet gebeur. Hy sê: Hulle sal kom met voorstellings van valse Christusse: “Kyk , hier is Hy!” of “Kyk, daar is Hy .” Dít hoor ons ook vandag van daardie teoloë.

Maar Jesus sê: “Julle moet nie agter hulle aangaan nie.“ Voor Sy wederkoms sal dit gaan soos in die tyd van Noag en  in die tyd van Lot toe alles skielik uitgewis en vernietig is, as voorspel  vir die wederkoms van Christus.

En toe vra Jesus se dissipels vir Hom (vers 17:37):
“Waar Here? Waar sal hierdie oordeel plaas vind met U wederkoms?

Toe gee Hy vir hulle ‘n eienaardige antwoord:
“Waar die aas lê, daar sal die aasvoëls bymekaar kom”.

Hiermee bedoel Hy na regte: Waar, of liewer wanneer die toestand   in die wêreld ryp geword het vir die oordeel van God, dan kom Ek om te oordeel.

Dit wil sê wanneer hierdie wêreld a.g.v.die toenemende goddelosheid volkome verrot geword het vir God se oordeel, dan sal op daardie dag, skielik en onverwags , die wederkoms plaasvind om te oordeel, net soos in die tyd van Noag en van Lot. Die goddelose wêreld moet dus eers ryp word in sy goddelosheid vir die oordeel van God. Ons weet dus nie wanneer dit gaan gebeur nie. Ons belewe egter hoe hierdie goddelose wêreld  besig is om ryp te word vir die Here se finale oordeel.

Broeders en susters, dit wat vandag gebeur maak aan ons bekend: Jesus is op pad. Sy koms is voor die deur.

Maar nou: verwag ons Hom nog elke dag? En hoe verwag ons Hom?

Ons beoefen ons godsdiens miskien daaglikse. Die meeste van ons bid miskien elke dag. Ons kom Sondae miskien gereeld kerktoe. Maar watter plek neem die wederkoms van Christus in ons godsdiens en in ons lewens as gelowiges in? Verwag ons  Hom nog elke dag?

Meer nog, bid ons nog soos daardie eerste Nuwe Testamentiese gemeentes soos ons in Openbaringe 22 lees:
Kom Here Jesus, kom gou!

Of soos dit van die gelowiges in Tessalonika geskryf  word dat hulle hulle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien terwyl hulle Sy Seun wat Hy  uit die dood opgewek het, voortdurend uit die hemel verwag ? (1 Tess 1:10)

Broeders en susters, ‘n godsdiensbeoefening sonder om die Here elke dag biddend te verwag, is ‘n halwe godsdiens. Só ‘n godsdiensbeoefening  is net tydelik, aardsgerig en dit het sy ewigheidsbetekenis verloor. Dit is niks anders as 'n halfhartige en daarom valse godsdiens nie.

Jesus se opstanding, hemelvaart, heerskappy vanuit die hemel en Sy wederkoms, is 'n eenheid. Alles wys op Sy koninklike heerlikheid en heerkappy. As ons Sy wederkoms uit hierdie ketting van Sy koninklike heerlikheid sou uitsluit, dan sal dit met ons maar ellendig gaan in ons geloofslewe.

Luister wat Jesus self hiervan sê in Lukas 18:8:
"Maar sal die Seun van die mens met Sy koms nog geloof op die aarde vind?

Jesus laat hierdie vraag egter in die lug hang. Waarom? Omdat dit 'n dringende vraag is waarop ons as gelowiges self 'n antwoord moet gee.

Met hierdie vraag koppel Hy ons geloof aan Hom direk aan Sy wederkoms.Daar het nou al soveel eeue verby gegaan sedert daardie dag. En Hy het nog nie gekom nie. Daarom gebeur dit dat mense kan verslap in hulle verwagting op Sy koms. Mense verwag Hom nie meer elke dag uit die hemel nie. Vir baie gelowiges het hierdie verlossingsdaad na die verre toekoms verskuif.  Baie ander dink nie eens meer aan daardie dag nie. Hierdie dag, wat so 'n daaglikse werklikheid moet wees, het ons na daardie dag, eendag, verskuif. En dit is verkeerd.

Met dié vraag bedoel Jesus nie dat daar met Sy wederkoms geen gelowiges op aarde sal wees nie. Daar sal nog wees, natuurlik!

Hy stel die vraag om ons te laat besef hoe 'n belangrike plek ons verwagting op Sy wederkoms in ons geloofslewe moet inneem. 'n Geloof sonder verwagting op Sy wederkoms, is 'n dooie geloof, 'n geloof sonder sekerheid op ons toekoms.

Daarom gee die Here by monde van Paulus vir ons die regte antwoord op hierdie vraag van Jesus in Romeine 15:13:
"Mag God die bron van hoop julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul sodat julle hoop - ons hoop op die wederkoms van Christus - al hoe sterker word deur die krag van die Heilige Gees."

Om ons te leer dat ons nie moedeloos moet word  omdat Hy so lank talm  om te kom nie, vertel Jesus 'n gelykenis. In hierdie gelykenis gaan dit oor 'n weduwee. Sy het 'n probleem omdat skelms haar huis en haar besittings op 'n skelmagtige wyse probeer onteien. Dit is dus 'n kwessie van kwaadwillige uitbuiting.

Sy gaan toe na die regter van die stad. Hy moet sorg dat reg geskied.Maar hy was sommer 'n bullebak. Hy het geen ontsag vir God gehad nie. En hy het geen mens ontsien nie.

Die ongelukkige weduwee het na hom gegaan, nie om gunste en gawes nie. Sy het verwag dat reg moet geskied, want daavoor is hy mos 'n regter.Maar die bullebak van 'n regter reageer nie eens op haar versoek nie. Hy maak asof sy nie eers bestaan nie.

Die weduwee het haar egter nie deur die regter se onbeskofte houding laat afsit nie. Sy het weer en weer met dieselfde versoek na hom  toe gegaan.

Haar besliste en aanhoudende versoeke het op die ou end die regter laat besef dat sy nie moedeloos sal word nie. Uiteindelik het hy toe maar aan haar versoek toegegee.

In verse 7 en 8 pas Jesus hierdie gelykenis toe op ons as gelowiges in ons gebedsverhouding met die Here, juis met die oog op  die wederkoms van Christus.

Die onregverdige regter het eindelik aan die weduwee se versoek toegegee.

Dan sê Jesus in vers 7: "Sal God dan nie aan Sy uitverkorenes reg doen wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?"(o.a.v.)

Die vraag is nou: Wat bedoel Jesus as Hy sê dat God lankmoedig teenoor Sy uitverkorenes is?

Is Hy dan ook soos hierdie regter? Hy laat dan toe dat Sy uitverkorenes al vir eeue by hom smeek om die vervulling van Sy beloftes oor die wederkoms sonder om daarop ag te slaan?

Trouens, Jesus sê self in 17 :22  hoe dat die uitverkorenes se gebedsmeking onbeantwoord bly:
"Daar sal dae kom dat julle daarna sal verlang om net een van die dae die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie."

Dit beteken: daar sal dae van ontsettende benoudheid en verdrukking kom oor die uitverkorenes. Hulle sal smekend bid en met versugting verlang na die dag van die afrekening wanneer die oordeel van die Here volkome voltrek sal word. Maar daardie dag sal nog nie aanbreek nie. Dit sal voorkom asof God nie aggee op die gebedsmekinge van Sy kinders nie.

Dan gebeur dit dat ons as gelowiges begin twyfel oor die wederkoms van Christus. Dit help nie om langer tot God te bid dat daar  aan ons reg moet geskied nie. Inteendeel, die kwaad en onreg word al hoe erger.

En, broeders en susters, is dit nie alreeds met ons die geval nie? Deur die eeue heen, veral in die tye van groot verdrukking  is daar met trane gebid dat die Here tog moet kom om reg te laat geskied.

Maar die eeue het gekom en gegaan, en Hy het nie gekom nie.Hou die Here Hom dan doof vir Sy uitverkore kinders se smekinge?

Nee, hoegenaamd nie. Die Here is nie soos daardie onregverdige regter nie.

Die vergelyking in die gelykenis lê  daarin dat die regter op die ou end tog toegegee het aan die versoeke van die weduwee, hoewel teen sy sin. Hierdie vrou het nie moedeloos geword nie. Sy het enduit volhard.

Nou sê Jesus: "Nog veel eerder sal God diégene verhoor wat aanhou om tot Hom te smeek in hulle gebede."

Hy is immers ons barmhartige en liefdevolle Vader. Hy sal ons nooit eenkant toe stoot nie, want ons is vir Hom kosbaar. Natuurlik nie uit onsself nie, maar op grond van Sy verkiesende liefde.

"Want kyk watter liefde die Vader aan ons bewys het. Hy noem ons sy kinders en ons is nou reeds Sy kinders."(1 Joh. 3:1)

So oneindig groot is Sy liefde vir ons dat Hy ons, toe ons nog sondaars  en vyande van Hom was, losgekoop en verlos het uit ons sondedood deur die bloed en lyding van Sy geliefde Seun, Jesus Christus aan die kruis.

Ons wat almal Satansaanbidders moes wees, het Hy bevry uit die mag van Satan met Christus se volkome offer aan die kruis en Sy oorwinning oor Satan toe Hy as oorwinnaar uit die dood opgestaan het.

Natuurlik verhoor ons Vader ons gebede. Maar as Hy nie onmiddelik doen wat ons vra nie, het Hy 'n doel daarmee. Jesus sê dit uitdruklik: "Ons Vader hoor ons smeekgebede, maar Hy is ook lankmoedig teenoor ons. Dit wil sê Hy kan nie nou aan ons smeekbede beantwoord nie. Met ander woorde, die tyd is nog nie ryp vir die wederkoms van Jesus nie.

Maar wanneer sal die tyd dan ryp wees? Ons kry die antwoord in die 2e brief van Petrus (hfst. 3:9) : "Die Here stel nie die vervulling van Sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is lankmoedig teenoor ons, want Hy wil nie hê dat sommige verlore moet gaan nie.

Dit beteken dat ons en hulle wat na ons kom nog baie bekeringswerk het om te doen. Geeneen van Sy uitverkore kinders mag verlore gaan nie. Die genadewerk wat die Here in Jesus Christus begin het en steeds voortsit deur die Heilige Gees en verkondiging van die Woord, moet eers voltooi word.

Jesus sê dit self in Matt. 24:14 :
"Hierdie evangelie sal in in die hele wêreld verkondig word sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom." 
Die wederkoms sal nie plaasvind voordat die laaste uitverkore kind van die Here gebore is nie.

En tog laat die Here ons nie in onsekerheid wag op die vervulling van Sy beloftes nie. Inteendeel, deur die Heilige Gees het die Here in ons kom woon. En volgens Efesiërs 1:14 lees ons:
"Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan hom behoort volkome sal verlos."
Dit is met die vervulling van die belofte oor die wederkoms.

Daarom sê Jesus dat God gou aan Sy uitverkorenes reg sal doen. Wanneer die goddelose wêreld ryp geword het in hulle goddeloosheid, dan oordeel God onmiddelik.

Ons, aan die ander kant , wat elke dag biddend volhard het met verwagting op die koms van Jesus, sal op daardie dag ons Saligmaker en Verlosser met ongekende vreugde tegemoet kan gaan.

Maar omdat ons nie weet wanneer daardie dag sal kom nie, bemoedig die Here ons deur die gelykenis om altyd elke dag biddend op Hom te wag.

As ons in ons gebede volhard en biddend ons Here Jesus elke dag verwag, lewe ons deur ons gebede in gemeenskap met die Here. Hy is immers die bron van ons hoop op die koms van Jesus Christus. En deur die krag van die Heilige Gees sal ons verwagting en hoop op die wederkoms net al hoe sterker word, ten spyte van toenemende verdrukking wat ons hier op aarde moet verduur.

Ons Here Jesus Christus kom weer. Dit is verseker. Hy is ons enigste sekere toekoms. Laat ons Hom dan elke dag biddend verwag terwyl ons God in alles dien deur gehoorsaam  aan Sy wil te wees. En laat ons mekaar in hierdie neerdrukkende tye voortdurend daaraan herinner: "Die Here kom!" Dan sal die dag van Sy koms vir ons net ware vreugde en ewige vrede by God vir altyd wees.
Amen

Ds. H.P.Prinsloo
Bellville
20/04/2002