Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm  68:15.

Gebed.

Psalm  145:8, 9.

Skriflesing:  Matteus 6
Teks:  Matteus 6: 33
   
... maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Broeders en susters, hierdie preek is 'n ernstige besinning oor ons benadering of ons gesindheid oor materiële en wêreldse dinge soos ons dit soms stel teenoor die Koninkryk van God.
Ons kyk na die volgende aantal dinge:
1. Wat is die fout?
2. Wat is die gevolg?
3. Wat stel die Here daarteenoor?
4. Toepassing.

1. Wat is die fout?

By die mense vir wie hierdie preek gelewer is, was daar 'n bepaalde spanning. Hulle het geworstel met die vraag: Wat is die verhouding van die aardse koninkryk tot die hemelse koninkryk? Daarom is hierdie preek toe gelewer waarin hulle geleer word wat die verhouding van die burgers van die koninkryk van God is tot die dinge wat op hierdie aarde is.

Dis nie 'n vreemde soort van spanning nie.
Vers 19 begin om die probleem prakties aan te sny. Moenie aardse skatte bymekaarmaak nie.
As mens net vinnig oor hierdie gedeelte lees, dan lyk dit asof hier 'n absolute teëstelling is tussen aardse besittings en die hemelse koninkryk.
Ons lees bv. in Johannes 8: 3 dat daar 'n groepie vrouens was wat die Here met hulle besittings gedien het. En hulle was ryk. Die feit dat hulle ryk was, word nie deur die Here veroordeel nie, want hulle verhouding met die Here was reg.

Die saak waaroor dit hier gaan, is dat daar by die mense 'n klemverskuiwing oor hierdie saak kan wees. En dit is inderdaad so dat hierdie verkeerde verskuiwing by sommiges van ons voorkom. Besittings en geld is vir baie mense die hoofsaak van hulle lewe.

2. Wat is die gevolg?

Die saak is nie so eenvoudig nie, want dit is nie waar dat net geld teenoor die koninkryk van God staan nie.
Die saak waaroor dit hier gaan, is nie onbelangrik nie.
Die hele saak lê in die hart en in die gesindheid van elke mens.
Jesus Christus trek die konsekwensies van hierdie verkeerde lewenshouding in sy diepte verder: Die koninkryk wat jy op die aarde vir jou bou, is aan ontbinding blootgestel. Ons weet dit! Dis waar ons spanning vandaan kom.
Eintlik moet die onder ons wat sulke uitermate hoë premies stel op hierdie lewe en alles wat hier as prestasies in tel is, net onthou dat die dinge alles maar deel uitmaak van 'n koninkryk wat vol geestelike armoede is.

3. Wat stel die Here daarteenoor?

Teenoor die aardse strewes wat almal binne die beperktheid van vernietiging val, stel die Here vir ons die hemelse koninkryk wat onvernietigbaar is - een wat onslytbaar is en wat baie meer heerlikheid bied as wat hierdie wêreld ooit kan bied.

Byna absoluut stel die Here dit: Soek die koninkryk van God!
Soek die koninkryk van God!
Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

Sommiges kan die dinge wat belangrik is vir die koninkryk van God ken, en ander kan nie, want hulle het nie die gawe daarvoor ontvang nie.

Wat die saak nog moeiliker maak, is omdat ons gereed moet maak vir 'n koninkryk wat iewers in die toekoms lê.
Maar die koninkryk van die Here is nie so nie. Lees maar hoe staan dit in die saligsprekinge (Matteus 5: 3   10):
Ons lewe nie so vir die toekoms nie.
In die moderne tye waarin ons nou lewe, het ons hele lewe, ons denke en ons kultuur 'n wysiging ondergaan. Dis ook waar van ons politiek. 
Dis waarom die Here Jesus so dringend kom waarsku teen die oorskatting van materiële en wêreldse dinge in hierdie lewe.
Lewe u byvoorbeeld so dat u vra wat die Here wil hê dat u met u salaris moet maak?
Die Here Jesus stel ons met sy preek direk voor die Here. Ons wil hê die ouderling en die dominee moet ons argument glo, maar dis glad nie waaroor dit gaan nie. Die Here self stel die saak geweldig absoluut in vers 21:

Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

4. Toepassing.

Kom ons pas dit toe:
Hierdie vers bedoel met jou hart jou lewenshouding.
Ons spanning kom daarvandaan dat ons dikwels twee Here wil dien: Hierdie lewe, en die toekomstige. Dis onversoenbaar.
Daarom het die woordjie "liefhê" in vers 24 net so 'n radikale betekenis.
Daar is net hierdie twee moontlikhede volgens die Here.

Moenie dink die Here weet nie watter spannings ons in die lewe het nie. Hy weet, maar Hy weet ook hoe krom ons soms dink en beplan.
Daarom staan daar in vers 25 geskryf:

Moenie julle kwel oor julle lewe wat julle sal eet en drink nie; of oor julle liggaam wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

Hierdie kwelling gaan baie duidelik oor kos en klere.
Luister na die Here se genade:
Jesus Christus het ook hierdie stryd van ons deurgemaak.
Omdat sy mikpunt van sy lewe en sy dood die koninkryk van God is, lewe Hy. Hy staan die derde dag op.
Saam met die koninkryk van God, moet ons ook sy geregtigheid soek.
Broeders en susters, ons leef in 'n tydsgleuf waarin die beloftes wat God in Christus gemaak het, al grootliks vervul is.
Ter wille van die Genade wat God aan ons bewys     kom ons dien Hom so dat Hy ons nie hoef te straf omdat ons verkeerde dinge oorskat het nie.
Ons doen dit vir geen ander rede nie as net om Hom te dank vir sy liefde in die verlossing wat ons het deur Jesus Christus.
Amen

Slotgebed.

Slotpsalm  Psalm 9:1, 9, 10.

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum:  4 Januarie 2004 (aand).