Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees. Amen.

Lofpsalm 149 : 1, 2

Geloofsbelydenis
Wet

Psalm 9 : 1, 7

Gebed.

Psalm 126 : 1, 3

Skriflesing: Mattheus 13 : 24 - 30, 36 - 43
Teks: Mattheus 13 : 30
Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal Ek vir diè wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.

Dit is nie moeilik om die beeld te verstaan wat hier in ons gelykenis gebruik word nie, van die boer wat goeie saad in sy land saai, en sy werksmense wat vir hom kom sê van al die onkruid wat tussen die koring opkom. Veral in 'n goeie reën jaar soos hierdie weet ons hoe geil ook die onkruid kan groei. 'n Boer wat nie sy lande skoon hou nie loop gevaar om sy oes te verloor.

Dit is juis wat weer moeilik is om te verstaan in die gelykenis dat die boer vir sy werksmense opdrag gee om die onkruid saam met die koring te laat groei. Ons sal nie dink dis 'n goeie boer wat onkruid saam met sy koring of ander gesaaides laat groei nie. Tog doen die boer van ons gelykenis dit. En hy doen dit juis ter wille van sy oes. Hoe moet ons dit verstaan? Die onkruid in ons gelykenis was 'n soort wildekoring wat byna nes koring gelyk het en veral in die vroeë stadium nie maklik van die werklike koring onderskei kan word nie. As jy dus sou probeer om die onkruid uit te roei, kon jy maklik ook van die regte koring uittrek, soos die boer ook vir sy mense sê.

En nou gee Christus self die verklaring van hierdie gelykenis. Die boer wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens (Christus), en die saailand is die wêreld. Die goeie saad - dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die bose. Die vyand wat die onkruid gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld en diè wat oes, is die engele. En waaroor gaan dit dan in die gelykenis? Dit trek alles saam in die woorde van ons teks: Laat altwee saam groei tot die oes toe. Dit is saaityd en groeityd in die wêreld. Hoe duidelik beleef ons dit nie elke dag nie. In die wêreld leef gelowiges en ongelowiges saam. Ons werk saam, beoefen saam sport, behoort saam aan dieselfde vakbond, sit saam in die regering en ander organisasies. In die wêreld word nie net die saad van die evangelie gesaai nie. Die duiwel is net so hard besig om te saai. Hy saai die saad van leuens, valse godsdiens en onsedelikheid en haat. Ons sien dit ook in die kerk, die afvalliges tussen en saam met die ware gelowiges, die dwaalleer (dat alle godsdienste gelyk is, dat die Bybel nie die Woord van God is nie, dat homosekualisme nie sonde is nie, dat die mens deur sy eie vrye wil kan besluit om gered te word, dat Christus vir alle mense gesterf het, ens.) wat net so hard verkondig word soos die ware evangelie. So dikwels is die dwaalleer, die woord van onwaarheid so subtiel dat jy dit byna nie van die waarheid kan onderskei nie. Ons sien dit in ons eie lewe, die saad van wellus en eiegeregtigheid en geldgierigheid en selfsug wat die vrug van die Gees (liefde, geduld, getrouheid, vriendelikheid, selfbeheersing) wil verstik. As ek die goeie wil doen, dan is die kwaad by my aanwesig.

Ons sou dit graag anders wou hê. In die Middeleeue het die priesters in die kloosters gaan woon en gedink hulle kan die sonde uithou. Natuurlik moet ons teen die sonde stry en getuig, dit uitroei, ten bloede toe weerstand bied. Natuurlik moet ek my elke dag bekeer van my bose werke. En tog leer ons gelykenis ons ook die waarheid dat goed en kwaad, gelowige en ongelowige, saam groei op dieselfde akker. Die Here het ook daarmee 'n doel. In die stryd louter en versterk Hy ons geloof. Die saad van die waarheid kan sy onoorwinlike krag net openbaar as dit stry teen die saad van die leuen en uiteindelik oorwin.

En God doen dit ter wille van die oes. Dit sal nie onbepaald duur nie. Ons groei na die oes toe, die gelowiges en die ongelowiges. Die goeie en die slegte saad is besig om ryp te word. En dàn is die verskil baie duidelik. Dan kan die oes ingesamel word, die onkruid om verbrand te word en die koring in die hemelse skuur. Ons sien dit ook baie duidelik, hoe die oes ryp word. Daar is op baie plekke in die wêreld 'n oplewing in die godsdiens en verootmoediging en bekering. Hopelik is daar by elkeen van ons groei en verdieping in ons geloof. Aan die ander kant is daar net so 'n toename in misdaad en godslastering en onsedelikheid en gesinsverbrokkeling.

Sal goddeloosheid en boosheid ons nie oorweldig en verstik nie? Ons gelykenis sê nee, al lyk dit dikwels of die kerk besig is om te sterf en die mag van die duisternis besig is om oor te neem. Ons hoor hier die waarheid van 2 Tim. 2 : 19: Die Here ken dit wat syne is. Hy bewaar ons vir die voleinding. Daar kom 'n oestyd. En daar sal koring wees. Die poorte van die hel sal die kerk nie oorweldig nie. Die Here bewaar ons en laat ons groei deur sy Woord en sy sakramente. Daarvoor ontvang ons elke Sondag sy Woord en volgende Sondag ook weer die Nagmaal om ons geloof te versterk, ons te laat groei sodat ons nie deur die onkruid in ons eie hart en in die kerk en die wêreld verstik en dood gedruk word nie. Ons moet hierdie genademiddele gebruik. Ons het rede om te aanvaar dat daar in baie huise nie meer huisgodsdiens gehou word nie terwyl die slegte saad van die televisie welig groei. Hoeveel lidamte is hier wat met die minimum kerkbesoek tevrede is. Hier is lidmate wat so konsekwent nie die aanddiens bywoon nie dat 'n mens die indruk kry dit is vir hulle 'n beginsel om nie in die aand kerk toe te kom nie. Hoeveel lidmate bly vir die geringste rede of sonder rede weg van die Nagmaal. So stomp ons af en ons groeikrag verminder. Dan begin die onkruid ons oorheers. Waar moes die Here nie al van sy kinders gaan haal nie. Hoeveel lidmate lyk meer na wildekoring, onkruid.

'n Laaste gedagte. In die ander bekende gelykenis van die Saaier en ook op ander plekke in die Bybel is die saad die Woord. Maar hier in ons gelykenis van vanoggend is die saad skielik mense. Dink daaraan: Hoe meer die Woord in ons gestalte kry, hoe meer ons een word met Christus, die Woord wat vlees geword het, sy liggaam eet en sy bloed drink, hoe meer word ons self die goeie saad wat uitgroei tot die volle oes. Hoe meer lyk ons soos Christus en groei ons in Hom en na Hom toe, totdat Hy ons kom haal. Amen.

Slotgebed.

Skrifberyming

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal. Amen.

Dr. C.F.C. Coetzee
Bellville
Datum: 10 Maart 2002