Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 118:1, 9

Gebed

Skrifberyming 15-7:1 (43:1)

Skriflesing:    Matteus 18
Teks:         Matteus 18:35; Kategismus Sondag 31

So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

Jesus is Koning, maar op ’n ander manier as waarvan hulle Hom valslik beskuldig het.
Vir hierdie ryk het Jesus sleutels voorsien. Mense kan nie maar net daar ingaan of uitbly soos wat hulle lus het nie.

Hierdie sleutels bevestig aan ons:
1. Die majesteit van die Koning
2. Die behoud van die onderdane
3. Die noodsaaklikheid van ons bekering
4. Die uitbanning van die onreines

1. Die majesteit van die Koning
’n Sleutel is die mag om ’n huis of ’n stad oop of toe te sluit. In hierdie geval is dit die sleutel om die hele ryk van God oop of toe te sluit.
Die Here het die mag om te heers uitdruklik nie aan die dissipels oorgedra nie. Hy het hulle beveel om diensknegte te wees in in sy koninkryk (Matteus 20:26). Dit geld ook van die dominee, ouderlinge en diakens in elke kerk van die Here. Ons dienste wat ons beklee, is maar net die voortsetting van die dienste wat die apostels verrig het, en wat vir hulle waar was, is vir ons ook waar.

Onthou die woorde van die Here toe Hy die dissipels vermaan het:

Maar Jesus het hulle na Hom toe geroep en gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen. Maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen van julle wat groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Markus 10:42-45; vgl. ook Lukas 22:25).

Dit moet ons egter nie mislei dat ons kan dink dat die kerkraad ons nie in die Naam van die Here mag tug of selfs by verharding uit die kerk uitban nie.
Jesus is die Opperherder (1 Petrus 5:4). Hy maak sy kele kudde met sy Gees getrou in hulle aanbidding en gehoorsaamheid aan die Here. Dit is dieselfde as wat Jesus vir Petrus gesê het dat Hy sy gemeente sal bou op die belydenis dat Jesus die Christus van God is.

2. Die behoud van die onderdane
Die Here bewaar sy onderdane deur hulle hulle sondes te vergewe.
Die Bybel leer dus self dat daar mense is wat nie in Jesus Christus glo nie, en dat hulle almal verlore gaan.

Dit beteken nie dat die mense vir wie Jesus sterf en hulle opneem in sy koninkryk toe hulle op die aarde gelewe het nie sondes gedoen het nie.
Die bewaring van die wat gered word, is suiwer uit genade. Christus het dit verwerf en vir hulle gegee. Dit staan baie duidelik in Romeine 3 geskryf:

. . . want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Hierdie genade is so groot dat die Here dit al in die ewigheid voor die skepping vir ons bepaal en oor ons wat gered moet word, vasgestel het (Efesiërs 1:4). Die saak is by die Here so sterk en seker dat Hy in Efesiërs 2:6 skryf dat ons reeds saam met Jesus Christus opgewek is, en dat Hy ons reeds saam met Hom in die hemel laat sit.

3. Die noodsaaklikheid van ons bekering
Die hemel bly vir die ongelowiges en mense wat hulle nie met hulle hele hart bekeer nie, gesluit. Daaroor is die Bybel baie reguit en duidelik, want dit staan presies so geskryf in 1 Korintiërs 6:9.

Sulke onbekeerdes sal die Here nie kan verwyt dat Hy onregverdig teenoor hulle was nie. Hulle eie sondes en moedswilligheid is die direkte oorsaak daarvan dat hulle nie in die hemel sal kan ingaan nie. Onthou maar net die woorde van Johannes die Doper:

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom (Johannes 3:36).

Onbekeerlikheid is by die Here skandelik (1 Korintiërs 5:11). Daarom bekragtig die Here die uitsluiting van ongelowiges in sy Naam presies soos wat Hy die verlossing in Jesus Christus bekragtig.
Die kerkraad is die Here se wagters op die muur. Hulle moet waarsku as die vyand kom. Maar hulle moet ook die hekke van die stad sluit om die vyand uit te hou.

Onthou die opdrag van die Here aan hulle:

. . . verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, hulle vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening (2 Timoteus 4:2-5).

4. Die uitbanning van die onreines
Mense wat volhard in verkeerde dinge is nie by die Here welkom nie. Hy beskou hulle as verhardes teen Hom en as mense wat onboetvaardig is – met ander woorde mense wat nie weet wat dit is om berou te hê nie. Daarom laat Hy hulle nie in sy koninkryk toe nie.

Om sulke mense op die aarde al uit die ewige koninkryk van God uit te sluit, is natuurlik ’n geweldige saak. Kan u dink wat die Here met ’n kerkraad en ’n gemeente gaan doen wat iemand verkeerdelik uit die gemeenskap van die heiliges uitgesluit het?

Daarom vertrou die Here so ’n taak nie aan een mens of net aan ’n paar alleen toe nie. Ons kry die beginsel in Matteus 18.
Matteus 18 maak die beginsel baie duidelik dat die tug by die gemeente begin, en deur hulle almal saam afgehandel word.

Ons kerk is so versigtig met die tug dat ons selfs die hulp van naburige kerke en van die klassis inroep om te kom help oordeel wanneer iemand onder die tug moet kom.
Die straf van die Here is in hierdie lewe nie liggaamlik nie. Dis geestelik.
Dit beteken dat hulle deur die Here uit sy koninkryk uitgeban word – as hulle nie weer iewers tot bekering kom nie, beteken dit dat hulle vir ewig uitgeban is. Dan is hulle in die hiernamaals in die hel.

In die hel is die straf van die Here nie net geestelik, soos hier op aarde nie.
Solank ons net besef dat bekering moontlik is, selfs nadat ’n persoon uit die kerk uitgeban is.
Die beginsel wat ons moet onthou wanneer iemand na bekering weer opgeneem word, is dat die Here Jesus sy koninkryk oopsluit vir almal wat Hom as die hoogste Koning eer, en wat dit met hulle lewens bevestig.

Kom ons gee almal aandag daaraan dat ons die kudde van die hoogste Herder bly.
Kom ons lees Kategismus Sondag 31 saam.

Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.

Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).
(a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.

Amen.

Slotgebed

Slotpsalm 38:1, 17

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 11 Januarie 2004 (aand)