Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
 
Lofpsalm  148:1, 2.
Geloofsbelydenis  Apostolicum
Wet
Psalm  25:5
Gebed.
Doop
Psalm 105:5
Psalm  78:20

Skriflesing: Numeri 11
Teks:  Numeri 11: 17

Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.

Hierdie Bybelgedeelte vermaan ons om ons nie deur ander mense oor enige saak op sleeptou te laat neem nie.
Kom ons gaan saam terug in die geskiedenis en kyk wat het alles gebeur in die gedeelte wat ons saam gelees het.

1. Mense se opstandigheid teen die Here.
2. Opstandigheid laat ons perspektief verloor.
3. Ons moet in Christus hierbo uitstyg.

1. Mense se opstandigheid teen die Here.

Moses kla en verwyt die Here omdat die Here hom sleg behandel. Die gevolg is dat die Here 'n groot deel van die Gees wat op hom was, van hom af weggeneem het en dit vir ander mense gegee het.

Hoe het Moses in hierdie vernederende situasie beland?
Die gekerm van die volk was blykbaar erg, want mense het so hard voor hulle tente se ingange gehuil dat jy hulle oraloor in die laer kon hoor.  Wat in werklikheid gebeur het, was dat die volk heeltemal perspektief op hulle situasie verloor het.
Ons sou ook mislei kon word en dink dat daar regtig nie vleis was nie. Maar as ons alles wat die Bybel van die uittog vertel, naslaan, sien ons dat dit nie die geval was dat daar te min vleis was om te eet nie.
Dit gaan maar met ons in ons sondige gebrokenheid net soos met hierdie Israeliete, dat as ons swaarkry, ons die slegte dinge van die verlede vergeet. Al wat ons dan onthou, is die mooi en  helder oomblikke wat ons vroeër gehad het.

Met Israel was dit presies so.
2. Opstandigheid laat ons perspektief verloor.

Die ontbering van die woestynlewe het nou vir hulle so swaar geword dat dit hulle hele lewe begin oorheers het.
Die Bybel het altyd die manier om 'n fout reg te stel. Dit gebeur ook hier. Die gedeelte van vers 7 - 9 vertel hoe onregverdig die klag van die mense was.
…en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee.  Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur. (Psalms 78:24-25 AFR53)

Moses het die gekerm gehoor en dit het hom nie aangestaan nie. Die Here het dit ook gehoor en Hy het kwaad geword daaroor. Maar die Here het eintlik oor twee redes kwaad geword:
Die volk was elke keer asof hulle afgestomp was as dit by sulke sake gekom het, want elke keer het hulle met ontevredenheid en verwyte begin.
Die hele beskrywing vertoon aan ons 'n baie emosionele mens wat toelaat dat sy emosies hande uitruk.
Ons lees dat hy sy eie kinders nie besny het nie en dat sy vrou sy lewe moes red omdat die Here hom daaroor wou doodmaak.
Ons is soms verstom oor die arrogansie waarmee Moses met die Here praat. Moses voel dat hy nie so kan aangaan nie.
Die vraag is waarom die Here hierdie foute van Moses so presies laat neerskryf? Die antwoord is dat die Here ons wil laat sien hoe groot sy geduld en sy genade met ons is.

Hierdie optrede van Moses is 'n ontroerende ontboeseming van 'n sondige mensehart. Hy is ook nie die enigste een wat dit doen nie.
Daarom hoor ons uit die Here se mond geen vernietigende oordeel nie, maar eerder 'n toegewing aan Moses se verwyt.
Daarmee openbaar die Here aan hom dat die gawes wat hy gehad het, heeltemal genoeg was om wel die las van die volk te dra, maar sy persoonlike ingesteldheid was nie reg nie.
Dit gebeur met ons ook soos met Moses dat ons soms in situasies kom waar ons voel dat alles vir ons te veel is.  In sulke tye is daar twee sake wat ons moet uitmaak.
Die volk kom ook nie skotvry weg nie. Hulle het gekerm asof die Here hulle nie versorg nie. Deur die Here se versorging met Egipte te vergelyk, het hulle die heiligheid van die Here aangetas.
3. Ons moet in Christus hierbo uitstyg.

Ons is besig om voor te berei om volgende maand Nagmaal te vier. Dit beteken dat ons ons hele lewe volledig moet deurgaan en let op ons verhouding met die Here.
Die gedeelte wat ons gelees het maak een saak baie mooi duidelik: ons moet so naby aan die Here lewe dat daar nie dinge kan gebeur wat tussen ons en die Here kom staan nie.
Ons moet baie nugter bly in ons oordeel oor die hele lewe, want ons hele lewe is gekoppel aan die Here. Elke ding wat ons doen, is deel van die Here se raad. In elke ding wat met ons gebeur, verwag die Here dat ons al ons gawes sal aanwend om dit te hanteer tot sy eer.

Kyk net na die Christusprediking van hierdie gedeelte.
Twee van die manne het in die laer agtergebly. Vir een of ander rede wat die Bybel nie vertel nie, het hulle nie saam met die ander na die tent van samekoms toe gegaan nie.
Josua was ontsteld daaroor en hy wou gehad het dat Moses die mense moes stilmaak. Moses wou nie, want hy het gedink dat dit 'n goeie ding was. Moses het toe gesê: Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee!

Dit wat Moses hier profeties gewens het, is later deur die profeet Joël geprofeteer (Joël 2: 28) en is op Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees vervul.
Kom ons berei ons voor om die genade van God te sien soos wat dit elke dag in ons lewens na vore kom.
Amen.

Slotgebed.

Slotpsalm  4:2

Die HERE sal jou seën en jou behoed;  
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;  
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 24 Oktober 2004 (oggend)