Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 81:1, 10, 11, 12

Gebed

Psalm 97:4

Skriflesing:    Psalm 119
Teks:            Psalm 119:17; Kategismus Sondag 35

Doen goed aan U dienaar, dan sal ek lewe en U Woord gehoorsaam.

Hierdie preek handel oor die tweede gebod, waar die Here ons verbied om Hom met beeldediens te aanbid. Die gebod gaan so:
Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek die HERE jou God, is ’n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.

Kom ons hou Psalm 119 in gedagte en gaan kyk dan na die tweede gebod uit die volgende gesigspunte:
1. Daar is geen ander manier om die Here te dien as deur sy Woord nie.
2. Die Woord van die Here leer ons om die Here suiwer te aanbid.
3. Aanbidding deur die Woord is doelmatige aanbidding.

1. Daar is geen ander manier om die Here te dien as deur sy Woord nie.
Hierdie gebod stel ’n beginsel: Daar is net een manier om die Here te dien, en dit is soos wat Hyself dit in sy Woord voorskryf. Die Here het die manier waarop Hy aanbid wil word, voorgeskryf en vasgestel. Alle vorme van aanbidding wat nie hiermee ooreenkom nie, moet deur ons verwerp word.

Dit is natuurlik maklik om dit van die preekstoel af te sê, maar in die werklike lewe gebeur dit nie so nie. Kom ons kyk na die dinge wat ons as gelowiges beïnvloed om te verdwaal:
In die meer moderne tyd het die beeldediens uit die heidense afgodsbeelde ontstaan. Dit was ’n samesmelting van die Christelike geloof met die ou heidense afgodsdienste waar beelde gebruik is om te aanbid. Veral by die Roomse kerk is hierdie vorm van aanbidding sterk in gebruik.
Die gevaar is in ons tyd heelwat skerper dat die kerk mag verval in ’n vorm van aanbidding wat ons by die Here in die moeilikheid gaan bring, omdat die moderne teologie daartoe neig om die Here te wil beskryf soos hulle Hom wil sien. Daarmee saam ontken of buig die moderne teologie die Woord van die Here.
Die kerk moet nooit slimmer as die Here probeer wees en die Here probeer voorskryf wat om te doen nie.
2. Die Woord van die Here leer ons om die Here suiwer te aanbid.
Die feit is eenvoudig: Die Woord van die Here alleen openbaar aan ons hoe die Here gedien wil word.
Natuurlik raak dit ons hele lewe. Dink maar aan Handelinge 17:28, 29. Daar word al die praktiese en sigbare dinge van die lewe ingesluit, maar terselfdertyd word daar ernstig daarop gewys dat die Here in sy bestaan nie aan die dinge in die sigbare lewe gelyk is nie.

. . . want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die Godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.

Wanneer ons met beelde of afbeeldings werk, sit ons dadelik met hierdie groot gevaar dat die sigbare aanskouing daarvan ons kan belet om die geestelike van God se bestaan raak te sien.
Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ’n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet. (Jeremia 10:14-15 AFR53)

Teenoor:

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.  (Johannes 4:24 AFR53)

Psalm 119:18, 19 leer ons twee belangrike dinge, naamlik dat ons die Here die beste kan ken deur sy Woord.

Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. (Psalm 119:18-19 AFR53)

Dit is belangrik, omdat om die Here te ken, terselfdertyd is om vir ewig te lewe.
3. Aanbidding deur die Woord is doelmatige aanbidding.
Daar was al die eeue deur dinge in die kerk wat ander dinge afbeeld. Daar was byvoorbeeld fisiese dinge wat iets van die verlossingswerk en genade van die Here gesimboliseer het:
Ons het vandag nog van hierdie dinge oor in ons kerk, omdat die Here ons beveel het om dit te hou. Die verskil tussen beeldediens soos wat die Roomse kerk dit het en die beelde of afbeeldings wat ons by die doop en die Nagmaal het, is dat die Here hierdie simbole ingestel het. Hulle is nie menslike uitvindings of ’n vorm van eiewillige godsdiens nie.
Om die Here op enige manier te aanbid wat anders is as wat in sy Woord geopenbaar word, soos byvoorbeeld deur beeldediens, is heeltemal nutteloos.
In ons tyd is daar natuurlik allerhande modernismes en nuwe uitvindinge wat in eredienste insluip. Die feit is bloot dat ons voorbeelde in die Bybel het waar die Here enige vorm van eiewillige godsdiens afkeur en swaar straf. (Miga 6:7, 8; Kolossense 2:23).

Sal die HERE ’n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? (Miga 6:7-8 AFR53)

. . . wat, alhoewel dit ’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees. (Kolossense 2:23 AFR53)

As ons in ons aanbidding afwyk van die Here se Woord, betree ons ’n uiters gevaarlike terrein.
Die Here wil hê dat ons Hom deur sy Woord moet ken en volgens sy Woord moet aanbid. Daarmee is die saak vir Hom finaal. Hy wil dit juis so hê, sodat ons nie met of deur enige ding nie, maar met Hom self direk gemeenskap kan hê.

Kom ons kyk wat ons oor al hierdie dinge bely. Ons lees Kategismus Sondag 35 saam.

Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a)Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30; Matt 15:9.

Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a)Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.

Vraag 98: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a)Jer 10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15, 17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17.

Amen.

Slotgebed

Slotpsalm 119:63

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 1 Februarie 2004 (aand)