Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 32:3

Gebed

Psalm 34:2

Skriflesing:    Psalm 130
Teks:             Psalm 130:3, 4; Kategismus Sondag 2

As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word. (AFR53)

’n Christen se lewe is altyddeur ’n lewe van selfondersoek. Dit is ’n lewe waarin hy in sy sondes ontdek word en dan met sy hele wese teen die kwaad stry om dit tot eer van God te oorwin. Dit is die agtergrond waarteen ons elke keer die Heilige Nagmaal gebruik.

In die Nagmaalsformulier word dit duidelik aan ons gestel dat alleen diegene wat hulle sondes kan bely, en hulle lewe kan sien teen die wet van God, die Here se tasbare bewyse van genade (sakramente) kan geniet. Alleen sulkes mag die maal van skuldvergewing aan die Nagmaalstafel kom nuttig.

Wat beteken selfondersoek en selfbeproewing? Kom ons sê eers wat dit nie beteken nie.
Dit beteken wel dat ons voortdurend ons lewens in die spieël van God se wet moet bekyk. Die rede is voor die hand liggend: Ons bely in een van ons belydenisskrifte dat ons ons ellendes uit die wet van God ken. Daarom moet ons daar gaan kyk wat is fout.
Moontlik sal die meeste van ons nie graag hiermee wil saamstem nie, want ons wil onsself nie sien as ongehoorsame en teëpraterige kinders nie.
Is die probleem nie dalk dat ons soms ons godsdiens te veel uit ons self uit beoefen nie? As ons mooi dink oor ons sondes, waar en hoe kom ons agter watter sondes ons doen?
Die vraag is of so ’n antwoord genoeg diepte het, want alles wat ons doen en sê, ook ons ervaring, kom uit sondige fondasies uit. Ons is in sonde ontvang en gebore.
So ’n vaste maatstaf kry ons net by God self, want Hy kan nie deur sonde aangetas word nie. Die Here het vir ons so ’n reguit en vaste geestelike lineaal gegee, naamlik sy wet.

Die wet van die Here:
Die wet van die Here is die enigste middel wat ons die volle omvang van ons sondes kan laat besef en wat ons voortdurend tot berou kan beweeg.
Selfbeproewing is dus om jou lewe in die spieël van God se wet te gaan bekyk. Maar dit is nie al nie.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou kragte. Dit is die eerste en groot gebod, en die tweede wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

In die Tien Gebooie, soos dit in die Ou Testament neergeskryf is, gaan dit in die eerste vier gebooie daaroor hoe ons die Here moet liefhê en in die laaste ses gebooie hoe ons ons naaste moet liefhê.

Die uitspraak van die Here Jesus dat alles in een gebod, naamlik die liefdesgebod saamtrek, is baie belangrik, omdat dit die klimaat gee waarin die wet van God in sy geheel gesien en uitgevoer moet word.

Kom ons kyk wat die Here Jesus bedoel. Ons neem die gebod wat leer dat jy nie mag doodslaan nie as ’n voorbeeld.
Die groot probleem begin natuurlik omdat die liefde vir God in toenemende mate by mense ontbreek – ook by kerkmense. Hoeveel keer word God en sy Woord nie teruggeskuif vir ons eie belange nie? Veral as die wet van die Here indruis teen iets wat ons graag wil doen.
Ons moet nou meer as ooit tevore in voltydse besinning lewe.
Dink aan wat Jakobus geskryf het in hoofstuk 1:23-25:

Want as iemand ’n hoorder van die Woord is en nie ’n dader nie, dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in die spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen. (AFR53)

Die wet van God is soos ’n goeie spieël waarin jy al jou foute sien. As jy daarmee erns maak en jou bekeer, verkry jy die genade van Christus.

Moet dan nie vandag uit die kerk uitstap en vergeet hoe u lewe lyk nie. Die Bybel sê die een wat dit doen, het alles verloor. Kyk om te sien en om iets aan die saak te doen.

Kom ons kyk saam wat ons hieroor bely in Kategismus Sondag 2:

Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.

Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27

Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer 17:9; Rom 7:23.

Amen.

Slotgebed

Ons dank U vir die verkondiging van U Woord aan ons. En ons dank U dat U U wet gegee het as ’n spieël waarin die Heilige Gees ons aan ons sondes ontdek.
Rig en lei ons nou so met U Heilige Gees dat ons voortdurend van ons sondes bekeer sal word. Here leer ons sodat ons steeds meer en meer op die pad van heiligwording mag loop.
Verhoor ons om Jesus Christus ontwil.

Amen.

Slotpsalm 119:7

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.

Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 4 Julie 2004 (aand)