Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 8:1, 8

Gebed

Psalm 20:1, 5

Skriflesing:    Spreuke 27
Teks:            Spreuke 27:12; Kategismus Sondag 36

’n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. (NAV)
As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf. (OAV)

Die verstandige mens van wie die Bybel hier praat, is nie noodwendig ’n mens met ’n hoë IK nie.
Dit beteken dat so ’n mens die kwaad betyds kan sien en dan sorg hy dat dit hom nie tref nie. Hy het verstand om te weet hoe die wil van die Here werk, en hy het ’n begrip van hoe om dit toe te pas.

Teenoor hierdie verstandiges is die onervarenes (OAV: eenvoudiges).
Hierdie verskil in lewenstyl tussen Godvresende mense en onverskillige mense kom veral skerp uit in hulle hantering van die derde gebod. Ons gaan in hierdie preek kyk na die volgende:
1. Die regte gebruik van die Here se Naam in die geloof
2. Die versigtige gebruik van die Here se Naam
3. Die gebruik van die Here se Naam tot behoud

1. Die regte gebruik van die Here se Naam in die geloof
Die Naam van die Here moet met groot versigtigheid gebruik word, want die Here vertoorn Hom oor mense wat sy Naam laster. Ware gelowiges kan die heerlikheid van God self in sy Naam sien en hoor. Hulle kan ook die geweldige toorn van God verstaan wat Hy in sy Naam openbaar.

’n Verstandige mens “sien” wyer as ’n onverskillige mens.
Ongelowiges vloek met die Naam van die Here omdat hulle nie in Hom glo nie, en omdat hulle nie besef dat daar na die dood ’n hele toekoms is wat met of sonder die Here deurgebring moet word nie.

Vir die ware gelowige is hier beginsels ter sprake.
Dit gebeur so dat mense met ’n swak geloof in swaar tye weggebreek word van die Here en sy Naam af. Met die ware gelowige gebeur dit anders:
Dink maar net aan mense met wie dit presies die teenoorgestelde gegaan het, byvoorbeeld Agab onder sy woeste vrou Isebel se invloed. Dink ook aan Lot se skoonseuns. Hulle almal het die Here geken, maar het in hulle menslike wysheid en verwaandheid die Naam van die Here verloën en uiteindelik die ewige dood gesterf.

2. Die versigtige gebruik van die Here se Naam
Die Here is wesenseen met sy Naam, want die Here word soms in die Bybel net “die Naam” genoem.
Ons versigtigheid moet baie sigbaar wees, want ons moet die Naam van die Here met eerbied en met vrees gebruik.
Daarom moet ons ’n groot saak daarvan maak om die Naam van die Here reg te bely.
Die Here se Naam moet nie net in ons eredienste geprys word nie; dit moet in ons hele lewe geprys word.
3. Die gebruik van die Here se Naam tot behoud
Toe Koning Josia die verskriklike sondes van die volk sien, het hy sy toevlug tot die Here geneem.
Die vraag is: Waarom het hy dit gedoen? Omdat hy besef het die volk se behoud lê in hulle terugkeer na die Here toe. Die Naam van die Here moet weer in sy volk herstel word.

Presies so is daar vir ons veiligheid en behoud in die aanbidding van die Naam van die Here.
Die Here se Naam is dus inderwaarheid ’n plek waar ons kan wegkruip teen magte wat veel groter is as ons, en waar ons ook beskerming kry teen dinge wat dreig om ons vir ewig te verwoes.

Ons lewe daagliks tussen mense wat die Naam van die Here swaar misbruik. Ons mag nie daaraan gewoond raak nie en ook nie deel word daarvan nie.

Die Here Jesus het ons wat glo, vernuut.
Oortreding teen die Naam van die Here is ’n soort van vergiftiging wat in jou wese intrek en wat jou verhouding met die Here doodmaak.
Kom ons lees Kategismus Sondag 36 saam.

Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur ’n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a) Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24; 1 Tim 6:1.

Vraag 100: Is dit dan so ’n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a) Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.

Amen.

Slotgebed

Slotpsalm 32:3

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 8 Februarie 2004 (aand)