tafelberg kerkembleem
Gereformeerde Kerk Bellville
Gereformeerde Kerk Bellville

Uitreik-aksie na die Russiese Federasie en voormalige Sowjet-republieke

(Tensy anders vermeld, is alle foto's persoonlik ontvang van evangeliste via e-pos of gewone pos)

Hierdie uitreik-aksie is moontlik gemaak deur Stichting Friedensstimme in Nederland. Friedensstimme stuur nie self sendelinge uit nie, maar stel meer as honderd evangeliste in staat om hulle volledig aan evangelieverkondiging te wy en voorsien hulle van lektuur en middele vir vervoer.

landkaart

Werksgebied van Friedensstimme (Landkaart met erkenning aan Friedensstimme).

Die werksgebied van Friedensstimme sluit in die barre koue toendra in die noorde van Siberië asook aangrensende gebiede in die Suide en Weste van die voormalige Sowjet-unie. Ja, letterlik tot aan die uiteinde van die aarde. In hierdie geweldig uitgestrekte gebied is daar miljoene mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie.

Ons betrokkenheid hierby sluit oa in:

  1. Skryf van bemoedigingsbriewe aan evangeliste. Korrespondensie vind hoofsaaklik plaas in Russies.
  2. Stuur van pakkette met wintersklere.
  3. Stuur van Bybels in hulle tale.
  4. Skryf van bemoedigingsbriewe aan christene wat in gevangenisse sit vanweë hulle geloof.

Die sendelinge leef eensaam en geïsoleerd met somtyds weinig vrug op hulle arbeid. Juis daarom word bemoediging des te meer waardeer, soos blyk uit terugvoering wat ontvang word. Aangesien heelwat van die sendelinge in die Oekraïene gebore is, het hulle in hierdie tyd van groot politieke omwentelinge ons voorbidding dringend nodig.

voertuig

Terrein-voertuig in die Winter.

In die arktiese gebied is daar geen paaie nie. In die winter rondom 21 Desember word daar vir ongeveer 3 maande lank geen son gesien nie. Die aarde is dan met 'n dik laag ys en sneeu bedek. In die somer rondom 21 Junie is die son vir ongeveer drie maande lank laag bokant die horison sigbaar.

ligspel

Ligspel in die Toendra.

In die somer as die ys gesmelt het, is die terrein moerasagtig en moeilik begaanbaar.

moeras

Moerasagtige Landskap in die Arktiese Somer.

Gedurende die ys-vrye tye is die riviere bevaarbaar en dan kan op hierdie wyse ook evangelisasie bedryf word.

boot

Die Naam van die Boot is: "Die Boodskapper".

Sendingwerk in die noorde van Rusland word hoofsaaklik bedryf onder die nomadiese stamme met hulle rendier troppe. Hulle bly in tsjoems wat 'n soort tent-struktuur van houtpale is wat met rendierhuide oorgetrek is.

oordenking

Skrifoordenking binne 'n Tsjoem.

blye boodskap

Die "Blye Boodskap".